Kom meet jouself teen Froning, Smith, Davidsdottir en Sigmundsdottir

Ysland se Sara Sigmundsdottir. Foto: Facebook

Dit is 07:30 op ’n Saterdagoggend en iewers in Suid-Afrika is daar ’n paar fikse mense aan’t sweet. En hoe dan anders: die CrossFit Ope is dan oor 34 dae – jy kan immers nie híér lyf wegsteek nie.

Deur die jare is al baie grappies oor CrossFit gemaak. Soos hoe weet jy iemand CrossFit? Hulle moet vir jou sê, want jy kan dit nie self sien nie.

Maar mense spot gereeld oor dinge wat hulle nie lekker begryp nie. Toegegee, woorde en uitdrukkings soos WOD (Workout of the Day), HSPU (Handstand Pushup) en SDHP (Sumo Deadlift High Pull) sal enige mens laat kopkrap en taalkenners na hul akroniem-handboeke laat gryp.

CrossFit is waarskynlik een van die sportsoorte wat die vinnigste ter wêreld groei. Volgens www.crossfit.com is daar meer as 7 000 geaffilieerde CrossFit-gimnasiums in die VSA alleen, terwyl daar in Suid-Afrika net ’n rapsie minder as 160 is.

Rich Froning was ’n paar keer die fiksste man op aarde. Foto: Facebook.

En waar niemand in 2007 juis veel van die CrossFit Spele geweet het nie, was daar vanjaar 415 000 atlete wat met eelt-gelooide en kalkbesmeerde hande probeer het om daardie ekstra optrek te doen: alles in ’n poging om hul vliegtuigkaartjie na Madison, Wisconsin, te bespreek… die tuiste van die Spele.

Nou kan jy ook saam met Sara Sigmundsdottir, Rich Froning, Mat Fraser en Suid-Afrika se eie Jason Smith aan jou gimnastiek-, gewigteoptel- en roeitegnieke skaaf wanneer die 2019 Reebok CrossFit Ope op 21 Februarie begin.

Maar jy hoef ook net ’n passie vir fiksheid, soos Ockert Nel, te hê om die Ope te geniet. Foto: Facebook

Die kompetisie van vyf weke laat CrossFitters van  oral ter wêreld in een groot box (CrossFit-lingo vir gimnasium) saam oefen en saam kyk of hulle die verskeie fiksheidsbeproewings kan bemeester.

Boonop maak dit nie saak of jy op Froning of Fraser (ouens wat die Spele al ’n paar keer gewen het) se standaard is of laas in graad vier se LO-periode ’n opstoot gedoen het nie: jy kán deelneem.

Die Ope is van 21 Februarie tot 25 Maart en jy kan op www.crossfit.com registreer. Onthou ook om die Fittest in Cape Town-kompetisie te volg: dit is van 31 Januarie tot 2 Februarie in Kaapstad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Philip J. ·

My jongste seun doen crossfit – en glo my, dis erger as wat die korporaal ons in die army opgef…oeter het!!! Sterkte aan al die deelnemers – doen lekker power-ups!

Anton X ·

was jy in die medics, of was jy een van daai wat ‘n varkpan op jou blou berei gehad het. ?

Philip J. ·

Nee, ek was in 1982 in die Geniekorps in Kroonstad en het grensdiens op Okandjera, Obulanto en Tsandi gedoen. Lekker ou tye ….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.