Anika nou Franse krieket-juweel

Anika Bester is een van die sterspelers in ’n opkomende Franse vrouekrieketspan. (Foto: Verskaf)

Anika Bester se lewenspad het al kuipstoppe in Kuilsrivier en Plettenbergbaai gemaak. Deesdae is sy in Europa, waar sy nie net topvertonings vir die Nantes-krieketklub lewer nie, maar ook vir die Franse nasionale vrouespan.

ʼn Paar weke gelede het sy ʼn speler van die wedstryd-vertoning teen Jersey gelewer. Haar topboulsyfers van 4/20 beteken dat Frankryk nog ʼn tree nader is om vir die Wêreldbekertoernooi te kwalifiseer.

“Ek het eerlikwaar nooit gedink dat ek internasionale krieket sou speel nie; en veral nie vir Frankryk nie. Ek het studeer om ʼn persoonlike fiksheidsafrigter te word en ek het verskillende sportsoorte beoefen. Ek het maar saam met my pa en broer krieket in die straat gespeel; dit is waar ek geleer het om te boul,” het sy uit Frankryk laat weet.

Erik le Roux, Erns Grundling en Anika Bester. Dié episode van Elders: Frankryk word 21 Augustus op kykNET uitgesaai. (Foto: Verskaf)

Hoewel haar medium/vinnige boulwerk gereeld ʼn telhouboek met nog ʼn paaltjie of twee inkleur, meen Erik le Roux dat haar flinke veldwerk een van haar grootste wapens is.

Le Roux is nie net ʼn kosmaak-ghoeroe en mede-aanbieder van die gewilde Edik van Nantes-reeks nie, maar hy is ook die kaptein en opsigter van die Nantes-krieketklub.

“Anika is baie atleties. Klein, maar so vinnig soos ʼn vuurpyl en beslis die beste veldwerker in die Franse span. Sy is ook geweldig mededingend en sy bevraagteken gereeld ʼn skeidsregter wanneer sy nie met die beslissing saamstem nie.”

Volgens Le Roux speel Bester gereeld saam met die klub se senior manselftal.

“Sy het my al uitgeboul – nie dat dit ʼn moeilike taak is nie – maar nou noem sy my ‘oom’ of ‘oupa’. En sy het die volle reg.”

Bester vertel dat sy juis met die oog op haar krieketloopbaan na Nantes verhuis het. Dit is immers een van die min plekke in Frankryk wat ʼn ordentlike kolfblad het.

“Ek kry nou meer kans om te oefen en die veld is ongetwyfeld een van die heel mooistes in Frankryk. Terselfdertyd geniet ek die mense saam met wie ek speel.”

So saam met haar oefening- en speelpligte gee sy ook krieketlesse by plaaslike skole om die sport ʼn bemarkingshupstoot te gee.

“Ek is ʼn bouler en ʼn regte straatkrieketkolwer, as ek dit so kan beskryf. Wanneer ek kolf, wil ek net die bal slaan; verdedigende houe bestaan nog nie in my repertoire nie. Ek verkies dus boulwerk, maar my gunstelingdissipline is veldwerk – ek sal vir enige bal spring.”

(Foto: Verskaf)

ʼn Gebrek aan oefengeriewe – ons praat nou nie hier van Nantes nie – is een van die grootste struikelblokke wat in die pad van Franse krieketsukses staan.

“Krieket is nog nie baie gewild in Frankryk nie en dit kan moeilik wees om ʼn goeie oefensessie in te werk. Ons oefen maar min saam as ʼn span. Tog gee almal hul beste en ek glo dat ons ʼn goeie span is met baie talent; ons kry net nie altyd die geleentheid om onsself te verbeter nie.”

Hoe op dees aardbodem appelleer ʼn mens vir ʼn been voor paaltjie-beslissing in Frans?

“Ek kan darem nou al die taal praat en verstaan, tog is dit een van die moeilikste dinge wat ek in my lewe moes leer. Dit is ʼn baie mooi taal, maar goeie genugtig, dis ingewikkeld! Gelukkig is die meeste krieketjargon in Engels – ons skree nog lekker howzat.”

Wanneer daar in Frankryk van ʼn kolwer gepraat word, sê hulle “batteur” of “batteuse”, terwyl ʼn bouler “lanceur” of “lanceuse” is.

“My grootste krieketdroom is om eendag in ʼn Wêreldbekertoernooi te speel en as ek vir die Franse speel, sal ek bitter graag teen die Proteas in aksie wil wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.