Broad groet met toetssege

Stuart Broad het sy laaste toets vir Engeland gespeel. (Foto: Marty Melville/AFP)

ʼn Hollywood-draaiboekskrywer sou waarskynlik nie met ʼn beter einde vorendag kon kom nie. Stuart Broad het vir oulaas die Engeland-ondersteuners laat feesvier toe hy vir Todd Murphy en Alex Carey uitgehaal het.

Dit was die laaste twee paaltjies om op die Oval te val en die Engelsmanne het die wedstryd met 49 lopies gewen om ʼn gelykop reeksuitslag van 2-elk te verseker.

Pat Cummins se span het egter genoeg gedoen om te sorg dat die As-gedenktrofee in Aussie-hande bly.

“Ek het al baie krieket saam met Broady gespeel en hy is ʼn ongelooflike speler. Dit voel asof dit bestem was dat hy die laaste paar paaltjies sou neem,” het Ben Stokes gesê.

Die Engeland-kaptein is trots op sy spelers se veggees – dit sit nie in enige span se broek om ʼn agterstand van 2-0 in te haal nie.

“Soos wat ek vir Pat gesê het; toetskrieket het dié reeks nodig gehad. Toetskrieket is immers die suiwerste weergawe van die spel en dit is baie moeilik om jou passie vir rooibalkrieket te verloor.”

Chris Woakes is as Engeland se speler van die reeks aangewys nadat hy 79 lopies aangeteken het en 19 paaltjies laat kantel het.

Mitchell Starc was Australië se beste speler met sy 23 paaltjies.

  • Opsomming van die telkaart:

Engeland 283/10 in 54,4 boulbeurte: Harry Brook 85, Ben Duckett 41 en Mitchell Starc 4/82.

Australië 295/10 in 103,1 boulbeurte: Steve Smtih 71, Usman Khawaja 47 en Chris Woakes 3/61.

Engeland 395/10 in 81,5 boulbeurte: Joe Root 91, Jonny Bairstow 78 en Mitchell Starc 4/100.

Australië 334/10 in 94,4 boulbeurte: Usman Khawaja 72, David Warner 60 en Chris Woakes 4/50.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

fafa ·

Uitstekende toetsreeks- ongelukkig speel net Engelse , Indie en Aus teen mekaar en ander spanne mis uit en val terug as span, spelers en afrigters. KSA so behep met geldmaak uit 20/20 en transformasie dat ons geen toetspelers ontwikkel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.