Broad vier 600ste toetspaaltjie

Engeland se Stuart Broad. (Foto: Lindsey Parnaby/AFP.)

Engeland se Stuart Broad het slegs die vyfde bouler – naas Muttiah Muralitharan, Shane Warne, James Anderson en Anil Kumble – geword om 600 toetspaaltjies in sy loopbaan te neem.

Die 37-jarige snelbouler het die prestasie op die eerste dag van die Old Trafford-toets teen Australië vermag toe Travis Head ʼn kort-van-ʼn-lengte-aflewering (skaars vinniger as 130 km/h) na Joe Root op die grens geslaan het.

Broad het die paaltjie in sy 166ste toets en met die 33 560ste aflewering van sy loopbaan geneem.

“Ek onthou hoe Ian Botham my Engeland-pet aan my oorhandig het voor my eerste wedstryd teen Sri Lanka in 2007. Ek dink ʼn sleutel tot my sukses is die feit dat ek aan toetskrieket verlaaf is; dit is vir my ʼn groot eer om nou deel van ʼn uitgelese groep spelers te wees,” het die snelbouler gesê.

Hy is ook in sy noppies omdat die gevaarlike Head sy 600ste slagoffer is.

“Dit het soos ʼn belangrike paaltjie gevoel. Travis het met ʼn paar uitstekende dryfhoue vorendag gekom en ons het besluit om hom met korter aflewerings te peper. Dit was ʼn groot bonus toe dié taktiek onmiddellik gewerk het!”

James Anderson en Stuart Broad. (Foto: Glyn Kirk/AFP.) 

Anderson – wat met 681 paaltjies spog – was ook op die veld om sy vriend se mylpaal te vier. Die twee spelers se snelboulvennootskap is nou al meer as 1 000 paaltjies werd.

Broad het dalk nie so ʼn klassieke boulaksie soos sy 40-jarige spanmaat nie, maar hy beskik oor die ongekende vermoë om binne ʼn oogwink ʼn rits kolwers uit te knikker – dink byvoorbeeld aan sy vertonings teen Australië op Trent Bridge en teen die Proteas op die Wanderers.

“Hy is ʼn uitstekende speler en dit lyk of daar oorgenoeg petrol in sy tenk is om nog vir ʼn paar jaar aan te hou speel. Die ding wat ek die meeste van hom bewonder is dat hy sy beste met elke liewe aflewering gee,” het Suid-Afrika se Allan Donald op sosiale media gedeel.

Die Aussies het teen uitskeityd 299/8 op die telbord gehad met Marnus Labuschagne (51) en Mitchell Marsh (51) wat vyftigtalle aangeteken het.

Engeland moet die toets wen as hy nog drome koester om met die reekslouere weg te stap.

  • Opsomming van telkaart:

Australië 299/8 in 83 boulbeurte: Marnus Labuschagne 51, Mitchell Marsh 51, Chris Woakes 4/52 en Stuart Broad 2/68.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.