Elgar verwag meer van sy kolwers

Die Protea-kolwers sal hul sokkies vir die beslissende toets moet optrek. Foto: Lindsey Parnaby/AFP.

Ná die euforie van die eerste toets op Lord’s het die Proteas met ’n harde slag terug aarde toe gekom toe Engeland hulle met ’n beurt en 85 lopies op Old Trafford gewen het.

Veral Ben Stokes het ’n barshou gespeel – die veelsydige speler het belangrike paaltjies geneem terwyl hy met die kolf ook sy stempel afgedruk het.

Hy het sy eerste honderdtal as kaptein van Engeland se toetsspan aangeteken, terwyl sy vennootskap met Ben Foakes die wind heeltemal uit die Suid-Afrikaners se seile gehaal het.

“Krieket gaan oor kolf-, boul- en veldwerk en die wyse waarop ons dinge in hierdie toets gedoen het, is beslis die maatstaf waarteen ons wil speel. ’n Mens moes oordeelkundig kolf omdat die baanblad se oneweredige wip aanvallende houe moeilik gemaak het,” het Stokes gesê.

Hoewel hy welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys het, het hy ook die heuningkwas uitgehaal om die 40-jarige James Anderson se vertoning te beskryf.

Anderson, wat in sy 100ste toets in Engeland gespeel het, spog met ’n boulontleding van 6/62 in die wedstryd en die Protea-kolwers het teen sy swaaiboulwerk gesukkel.

“Jimmy is ’n ware ambassadeur van die sport en ek weet eerlikwaar nie wanneer hy sy boulskoene gaan wegbêre nie.”

Hoewel die Suid-Afrikaners na ’n Jak de Priester-treffer geluister het en die fyn lyn tussen hero en zero oorgesteek het, meen die Suid-Afrikaanse toetskrieketkaptein dat daar nog nie rede tot kommer is nie.

’n Paar wenkbroue het beslis gelig toe Dean Elgar besluit het om eerste te kolf toe hy die loot gewen het.

Hoewel die besluit teoreties sin gemaak het, het dinge lelik skeefgeloop toe die Proteas vir slegs 151 lopies in hul eerste kolfbeurt uitgeknikker is.

“As jy meer as 300 lopies in jou eerste beurt kan aanteken gee jy vir jouself ’n goeie kans om die wedstryd te wen. Ek dink eerlikwaar ons het nie nou goed gekolf nie. Ja, die bal het rondbeweeg, maar hierdie is toetskrieket en jy moet dit kan hanteer,” het Elgar gesê.

“Ons kort meer lopies van ons middelorde-kolwers en op die oomblik laat dié aspek van die spel ons in die steek.”

Die hardebaard het egter belowe dat die Proteas met ’n beter vertoning in die derde en beslissende toets vorendag sal kom.

“Jy kan maklik paniekbevange raak wanneer dinge so skeefloop. Ek en Mark Boucher is egter glad nie paniekerig nie en ons weet dat ons nog ’n goeie span is.”

Die derde toets begin op 8 September op die Oval.

  • Opsomming van telkaart:

Suid-Afrika 151/10 in 53,2 boulbeurte: Kagiso Rabada 36, Keegan Petersen 21, James Anderson 3/32 en Stuart Broad 3/37.

Engeland 415/9 in 106,4 boulbeurte: Ben Foakes 113*, Ben Stokes 103 en Anrich Nortjé 3/82.

Suid-Afrika 179/10 in 85,2 boulbeurte: Keegan Petersen 42, Ollie Robinson 4/43 en James Anderson 3/30.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

George ·

Hy inkluis? Tyd dat Markram die boot gegee word, Malan, Malan, Malan…maar julle hou vas aan Markram, sy pa die lapa laat bou?

Witbaard ·

Drop vir Markram en vd Dussen, of betaal hulle volgens verdienste.

Hennie Biebouw ·

“Ons kort meer lopies van ons middelorde-kolwers en op die oomblik laat dié aspek van die spel ons in die steek.”….sê die man in Januarie 2021 laas ‘n 100-tal gemaak het?

Hoe dit ookal sy, dis tyd vir Janneman Malan en Ryan Rickelton om terug te kom in die 11-tal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.