Engelse glimlag toe Proteas eerste kolf

Dean Elgar is vroeg in die tweede toets uitgehaal nadat hy die loot gewen het en besluit het om eerste te kolf. Foto: Lindsey Parnaby/AFP.

Op ’n bewolkte dag in Manchester het Dean Elgar die loot op Old Trafford gewen en besluit om eerste te kolf. Skaars 13 boulbeurte later was hy saam met Sarel Erwee weer terug in die kleedkamer.

Ja, dit is ’n vreemde keuse op ’n dag waar snelboulwerk die hoogty behoort te vier, maar Elgar se besluit is waarskynlik deur Simon Harmer se insluiting beïnvloed.

Die Proteas het twee draaiers vir die toets gekies en hulle kan veral in die vierde beurt van die wedstryd verwoesting saai.

Boonop is Harmer vir die afgelope paar jaar een van die beste boulers in Engeland en hy laat gereeld ’n magdom paaltjies vir Essex in die County-kampioenskap spat.

Marco Jansen moes egter vir die draaier opsy skuif, terwyl Lungi Ngidi sy plek in die elftal behou het.

Die ellelange Jansen het goed in die Proteas se oorwinning op Lord’s vertoon – hy het 48 waardevolle lopies in die Suid-Afrikaners se kolfbeurt aangeteken, terwyl hy die Engelse kolwers met sy vaart en wip laat bontstaan het.

Met Elgar en Kie terug in die kleedkamer sal die onus nou op Rassie van der Dussen en Kyle Verreynne wees om die meeste van Suid-Afrika se lopies aan te teken.

Hoewel die middelorde in die eerste toets gesukkel het, het hul spanmaats vertroue in hul kolfwerkvermoëns.

“As kolfeenheid wil ons meer honderdtalle slaan en die ouens is beslis gereed om die Engelse boulers onder druk te plaas. Sarel het in die eerste toets gewys hoe dinge gedoen moet word en sy vennootskap met Dean het die grondslag vir ons telling gelê. Ja, die res van die kolwers het nie vlamgevat nie, maar ons weet dat hulle spelers van topgehalte is,” het Keshav Maharaj in die aanloop tot die Old Trafford-kragmeting gesê.

Dit is egter makliker gesê as gedaan.

Proteas: Dean Elgar (kaptein), Sarel Erwee, Keegan Petersen, Aiden Markram, Rassie van der Dussen, Kyle Verreynne, Keshav Maharaj, Simon Harmer, Kagiso Rabada, Anrich Nortjé en Lungi Ngidi.

Engeland: Alex Lees, Zak Crawley, Ollie Pope, Joe Root, Jonny Bairstow, Ben Stokes (kaptein), Ben Foakes, Ollie Robinson, Stuart Broad, Jack Leach en James Anderson.

  • Opsomming van telkaart:

Suid-Afrika 69/4 in 21.4 boulbeurte: Keegan Petersen 21, Aiden Markram 14 en Stuart Broad 2/17.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

George ·

Dean en die Proteas entourage was grootmond die hele week na een wen, nes die Bokke, moet hulle nou bietjie aarde toe kom weer.

George ·

Hoeveel kanse gaan julle nog vir Markram gee?! As julle nou nog nie kan sien hys nie opgewasse vir Toets krieket nie, weet ek darm nie.

BRBR ·

Hoe los mens ‘n speler wat 4 paaltjies, en tweede meeste lopies gekry het in vorige wedstryd uit? Verstaan hul wou draaier inbring, maar daar was ander speler met geen lopies en net 1 paaltjie.

BRBR ·

Is nie asof die kolwers so oortuigend was dat SA nie die ekstra kolfvermoë benodig nie. Dink hul is juis nou nogal spyt daaroor.

George ·

Hul kon hom saam harmer inbring en Markram uitlos, hy bat anyway beter :D

piet ·

Hierdie toets gaan dieselfde pad verloop as die eerste toets met ‘n ander wenner. As jy 150 kry in die eerste beurt kan jy maar baai baai toets se.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.