Faf bly maar ’n gewilde T20-keuse

Faf du Plessis. Foto: Twitter.

Die ervare Faf du Plessis sal volgende jaar die Johannesburg-franchise in Krieket Suid-Afrika (KSA) se splinternuwe T20-toernooi aanvoer.

Die Johannesburgse span word deur die Chennai Super Kings (CSK) besit; ’n span vir wie Du Plessis in 100 Indiese Premierliga-wedstryde gespeel het voordat hy die kapteinskapleisels van die Royal Challengers Bangalore (RCB) oorgeneem het.

“Faf was die afgelope tien jaar ’n steunpilaar en hy was ongetwyfeld een van ons beste spelers. Die Super Kings was ongelukkig dat hy nie meer deel van ons opset in die IPL is nie, maar hier is beslis ’n nuwe geleentheid vir ons in die komende Suid-Afrikaanse toernooi,” het Kasi Viswanathan, CSK se uitvoerende hoof, gesê.

Du Plessis is ongetwyfeld een van die meer gesogte sterre in die wêreldwye T20-ligas. Benewens die leierskaprol wat hy by RCB vertolk het, is hy ook die kaptein van die Northern Superchargers in Engeland se The Hundred-toernooi, terwyl hy saam met Liam Livingstone en Rashid Khan onder die topspelers in Australië se Big Bash League kan tel.

O ja, dan is daar ook $375 000 vir sy dienste opgedok om die Super Kings-span in Johannesburg te lei.

En ’n mens kan eintlik ’n eenvoudige stelling oor sy spelpeil maak: Hy is nog goed genoeg om internasionale T20-krieket vir Suid-Afrika te speel.

Hy mag dalk nou al 38 kersies op sy verjaardagkoek uitgeblaas het terwyl hy ook in 2020 laas vir die Proteas gespeel het, maar ouderdom behoort nie ’n bepalende faktor te wees wanneer die lopies steeds vloei en moeilike vangskote benut word nie.

Volgens Graeme Smith het die Protea-bestuur ’n paar moeilike besluite om te maak in die aanloop tot die T20-Wêreldbeker in Australië; onder meer of Du Plessis gaan speel of nie.

“Suid-Afrika moet nog besluit hoe hul beste 11-tal sal lyk. Faf du Plessis is fiks en speel nie meer in die langer formate van die spel nie,” het Smith in ’n destydse onderhoud met Star Sports gesê.

Volgens die voormalige nasionale kaptein en direkteur van krieket sal Du Plessis se beskikbaarheid ook ’n rol speel; soos reeds genoem is hy immers ’n ster in ’n hele paar internasionale T20-ligas.

Tog lyk dit of die Proteas ’n koers sonder Du Plessis inslaan. Kolwers soos Reeza Hendricks en die opwindende Tristan Stubbs het hulself goed van hul taak in die reeksoorwinning teen Engeland gekwyt, terwyl Aiden Markram die derde plek op die internasionale T20-kolfranglys beklee.

Intussen laat Du Plessis die geldnote so saam met die grenshoue inrol. En hy verdien dit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.