IPL-afrigterspos wink dalk vir Boucher

Mark Boucher. Foto: Adrian Dennis/AFP.

Simon Katich is weliswaar as die hoofafrigter van die MI Cape Town-span in die SA20-toernooi aangewys, maar volgens Cricinfo kan Mark Boucher die gunsteling wees om die afrigtersleisels van die Mumbai Indians in die Indiese Premierliga by Mahela Jayawardene oor te neem.

Jayawardene, wat die Indians sedert 2017 afrig, is onlangs tot die skatryk span se hoof van prestasie bevorder. Een van die voormalige Sri Lanka-kaptein se pligte is om die afrigterskorps van die Mumbai-franchisespanne gereed vir die verskillende T20-toernooie te kry.

Boucher het Maandag aangedui dat hy die tuig as die Protea-hoofafrigter ná die komende T20-Wêreldbeker in Australië sal neerlê.

In ʼn verklaring het Krieket Suid-Afrika (KSA) gesê dat die 45-jarige oudpaaltjiewagter bedank het om “ander geleenthede” in ooreenstemming met sy toekomstige loopbaan en persoonlike doelwitte na te streef.

Hoewel Boucher nie veel ervaring as die afrigter van ʼn T20-franchise het nie, het hy onder meer die Kolkata Knight Riders met hul paaltjiewagterwerk in 2016 bygestaan. Daarbenewens het die Proteas ook ʼn rits T20-kragmetings – 23 om presies te wees – onder sy toesig gewen.

Amla kry afrigterskans

MI Cape Town, wat saam met die Mumbai Indians en MI Emirates deur Reliance Industries Limited besit word, het vandeesweek aangedui dat Hashim Amla die span se kolfwerkafrigter vir die komende Suid-Afrikaanse skouspel sal wees.

Amla was in sy speeldae een van die Proteas se bestendigste witbalkrieketspelers en hy is die vinnigste kolwer om 2 000, 3 000, 4 000, 5 000 en 6 000 eendaglopies te slaan.

“Ek is baie opgewonde om deel van die MI Cape Town-opset te word. As ek na al die planne kyk, lyk dit na ʼn ongelooflike platform om vir plaaslike spelers ʼn welkome hupstoot te gee,” het Amla gesê.

Sterre soos Dewald Brevis, Kagiso Rabada, Rashid Khan en Liam Livingstone is reeds deur die Kaapse span vir die SA20-toernooi opgeraap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hennie Biebouw ·

Die “Board of Control for Cricket in India” gedomineerde IKR is ‘n ramp vir die sport wêreldwyd. Internasionale reekse tussen lande, veral die toets seisoen word afgeskaal en verwater om plek te maak vir die IPL giggel-krieket reeks. Wanneer laas het ons ‘n toer gesien wat uit 5 toetse bestaan?

N ·

Met geen politieke en rasse inmenging nie sal hy beslis baie suksesvol wees

Daleen ·

Na hoe KSA jou behandel het met die hele Gogga Adams klug hoop ek jy maak sakke vol dollars by die IPL reeks – jy verdien dit! Go Boucher!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.