Boucher pak Protea-afrigtershandskoene weg

Mark Boucher het aangedui dat hy ná die komende T20-Wêreldbeker die leisels as Protea-afrigter gaan neerlê. Hy sou aan die stuur van sake tot ná die 2023-Wêreldbeker (50 boulbeurte) gebly het. Foto: Adrian Dennis/AFP.

Mark Boucher sal die aflosstokkie as die hoofafrigter van die Protea-krieketspan aan iemand anders oorgee ná die komende T20-Wêreldbeker in Australië.

Krieket Suid-Afrika (KSA) het die nuus gister bevestig.

In ʼn verklaring het die nasionale krieketbeheerliggaam gesê dat die 45-jarige oudpaaltjiewagter bedank het om “ander geleenthede” in lyn met sy toekomstige loopbaan en persoonlike doelwitte na te streef.

Boucher het die afrigtersleisels in Desember 2019 vasgevat en die Proteas het onlangs weer onder sy toesig begin blom.

Die Suid-Afrikaners het 11 toetse in dié tydperk gewen en ondanks die onlangse reeksnederlaag teen Engeland beklee hulle die tweede plek op die Internasionale Krieketraad se Wêreldtoetskampioenskap-ranglys.

Terselfdertyd het die Proteas ʼn rits T20-kragmetings gewen – 23 om presies te wees – en hulle het die jongste reeks teen die Engelsmanne met 2-1 gewen.

“Mark het ʼn goeie grondslag vir Suid-Afrika gelê om in al drie formate van die spel te floreer en ek is seker ons sal die vrugte van sy harde werk in die T20-Wêreldbeker pluk. Onder sy leiding is die Proteas ʼn weer gevestigde span wat met selfvertroue speel,” het Enoch Nkwe gesê.

KSA se direkteur van krieket het die Protea-afrigter onder meer as ʼn Suid-Afrikaanse krieketlegende beskryf.

Tog was Boucher se loopbaan nie net maanskyn en rose nie.

 Foto: Phill Magakoe/AFP.

Hy was ná KSA se transformasie-sittings van rassisme beskuldig. En hoewel die dissiplinêre klagtes later teen hom laat vaar is, het die hele storie steeds ʼn wrang smaak in die mond gelaat.

Om van rassisme in ʼn land soos Suid-Afrika beskuldig te word, is ʼn baie ernstige aantyging.

“Die ongegronde bewerings van rassisme het vir aansienlike hartseer en angs gesorg. Die afgelope paar maande was baie moeilik; nie net vir myself nie, maar ook vir my gesin. Ek is dankbaar dat die proses uiteindelik tot ’n einde gekom het en dat KSA aanvaar het dat die klagtes teen my onvolhoubaar is,” het Boucher destyds in ’n verklaring gesê.

KSA het ʼn kort rukkie later met groot fanfare aangekondig dat hy uitsien om saam met die afrigter te werk.

“KSA is spyt dat ’n klagtewolk oor sy kop gehang het, maar ook bly dat die saak nou opgelos is,” het die krieketbeheerliggaam aangevoer.

Onder Boucher se bekwame toesig het die Proteas van die sewende plek op die toetskampioenskap-ranglys in Junie 2021 tot die heel boonste plek in 2022 gevorder.

Graeme Smith en Boucher. Foto: Marty Melville/AFP.

“Ons wil Mark bedank vir die tyd en moeite wat hy die afgelope drie jaar in Suid-Afrikaanse krieket as hoofafrigter belê het. Ná die uittrede van baie senior spelers het hy gehelp om die plaaslike krieketskip weer na ʼn veilige hawe te stuur,” het Pholetsi Moseki, KSA se uitvoerende hoof, gesê.

In sy speeldae was Boucher die bulterriër van die Suid-Afrikaanse krieketspan wat tot die heel laaste aflewering van die wedstryd geveg het.

Hy het destyds die wenlopies geslaan toe die Proteas meer as 400 lopies in ’n eendagwedstryd teen Australië op die Wanderers moes jaag, terwyl hy as ’n internasionale groentjie ’n rekordvennootskap van 195 lopies om die negende paaltjie met Pat Symcox teen Pakistan geniet het.

Benewens sy vaardigheid met die wilgerlat het sy werk agter die paaltjies ook beteken dat meer as toetskolwers die pad terug na die kleedkamer moes aanpak.

Met die klem wat deesdae op mik-en-moker-krieket is, kan ’n mens amper met sekerheid sê dat Boucher se rekord van 555 paaltjiewagter-slagoffers in die toetsarena nie sommer verbeter sal word nie.

Selfs nou, amper tien jaar nadat ’n fratsongeluk sy speelloopbaan beëindig het, het hy steeds ’n reputasie as ’n onverskrokke individu wat vir sy span veg.

Maar selfs ’n bulterriër kan moeg word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

N ·

Net so Kobus. Hy verdien respek, het baie lank uitgehou met al die politieke inmenging.

Rocco ·

Sterkte met jou toekoms, Mark. Dankie vir jou leiers-en afrigtersrol waarmee jy die Proteas tot nuwe hoogtes geneem het. Die gras is inderdaad groener, aan die anderkant van die draad. Mag die Protea span voortbou op sy nalatenskap – dink swarigheid lê voor

George ·

“nuwe hoogtes” nes jy se, begin op dag 3 en is klaar binne 60 min op dag5.

George ·

About time. Eks n groot Boucher fan, maar nie as afrigter nie.

Jakes ·

Boucher het sy beste gelewer. Die huidige geploeter met die swak gehalte van die kolf en boulwerk is nie Boucher se skuld nie. Elgar neem verkeerde besluite en het self swak gekolf in die toetsreeks teen England. Die Proteas was in hierdie reeks n verleentheid en n mens wonder maar net wie Boucher gaan opvolg?

domheks ·

Mark Boucher – BAIE DANKIE vir alles wat jy vir krieket gedoen het. Maar as politiek eers in sport is gaan dit soos hier in SA.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.