Jansen lei Protea-terugvegpoging

Marco Jansen het vier paaltjies in Engeland se kolfbeurt geneem. Foto: Ben Stansall/AFP.

Die laaste toets tussen Suid-Afrika en Engeland op die Oval is dalk met twee dae kortgeknip, maar soos wat dinge tans staan lyk dit of ʼn onbesliste uitslag buite die kwessie is.

Nadat die Protea-kolwers oudergewoonte in die hek geduik het, het die boulers (ook oudergewoonte) die kastaiings uit die vuur probeer krap.

Dean Elgar, Sarel Erwee, Keegan Petersen, Ryan Rickelton, Khaya Zondo en Kyle Verreynne kon slegs 47 lopies tussen hulle bymekaar skraap. As dit nie vir Marco Jansen se beurt (30) was nie, sou die Proteas waarskynlik gesukkel het om meer as 90 lopies aan te teken.

Nog net een Suid-Afrikaanse kolwer (Erwee op Lord’s) kon al ʼn vyftigtal in die reeks aanteken. Daarteenoor spog die Engelse reeds met twee honderdtalle (Ben Stokes en Ben Foakes) terwyl Ollie Pope se aanvallende beurt van 67 ʼn deurslaggewende rol in die beslissende toets kan speel.

Maar dankie tog vir Jansen.

Die linkshandige snelbouler se vier paaltjies het gekeer dat die Engelsmanne nie met die wedstryd weghardloop nie. Hy het van Alex Lees, Zak Crawley, Joe Root en Harry Brook ontslae geraak.

Teen uitskeityd het die tuisspan ʼn voorsprong van slegs 36 lopies geniet met nog drie paaltjies staande.

AB de Villiers was beïndruk met die Suid-Afrikaners se kanniedood-houding.

Volgens die voormalige Protea-kaptein het die besoekers karakter getoon; die meeste ander spanne sou die wedstryd gehensop het as hulle vir minder as 120 lopies uitgeboul is.

“As die kolwers ʼn bietjie veggees kan wys, glo ek dat ons boulers vir die res sal sorg,” het De Villiers getwiet.

  • Opsomming van telkaart:

Suid-Afrika 118/10 in 36.2 boulbeurte: Marco Jansen 30, Ollie Robinson 5/49 en Stuart Broad 4/41.

Engeland 154/7 in 33.4 boulbeurte: Ollie Pope 67, Marco Jansen 4/34 en Kagiso Rabada 2/78.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jan ·

Ek is bevrees, krieket (as ‘n sport) het nou alle geloofwaardigheid verloor. Hierdie derde toets, en gevolglik die reeks, herinner net te veel aan die toets destyds op Centurion wat Hansie “gegooi” het. Mens moet maar net krieket kyk vir die vermaakwaarde daarvan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.