Jong krieketster slaan seldsame siekte vir ’n ses

Heinrich Badenhorst. Foto: Verskaf.

Elke mens het ’n storie, maar die jong Heinrich Badenhorst se lewensverhaal is reeds gevul met hoofstukke propvol deursettingsvermoë, hoop en kriekethoogtepunte.

Die 13-jarige leerder van Laerskool Tygerpoort in Pretoria is met marmerbeensiekte (sklerosteose) gebore; ’n seldsame genetiese afwyking waarmee net meer as 100 mense wêreldwyd gediagnoseer is. Dit word gekenmerk deur groter beendigtheid en oormatige beengroei.

Tog, ten spyte van alles, is Heinrich een van Pretoria se kranigste jong krieketsterre. As veelsydige speler spog hy met ’n hoogste telling van 141 van 76 balle, terwyl sy bybreek-aflewerings al vir ’n boulontleding van 4/9 gesorg het.

Hy het egter nie altyd ’n maklike pad gestap nie.

Weens marmerbeensiekte kan sy skedel ook verdik – ’n uiters gevaarlike stand van sake omdat daar dan drukking op die brein en breinstam geplaas word. Gesigsverlamming en gehoorverlies is ook van die ernstige nagevolge.

Hy het reeds op vierjarige ouderdom sy eerste operasie ondergaan om die kanale waarin sy sig- en gehoorsenuwees lê, oop te maak om sodoende die drukking te verlig.

Heinrich het al ’n rits kriekettrofees gewen. Hy moes gedurende die afsonderingstydperk weer ’n operasie ondergaan om ’n gedeelte van sy skedel dunner te maak. Foto: Verskaf.

“Die operasies was noodsaaklik om die senuwees te beskerm sodat dit nie deur die groeiende been vasgedruk word nie. Hy het later gehoorapparate begin dra omdat sy gehoorkanale toe is en nie soos normale mense s’n funksioneer nie,” het sy ma, Liezl, vir Maroela Media gesê.

Sy vertel dat haar seun in sy graad 3-jaar ook ’n operasie moes ondergaan om ’n gedeelte van sy skedel dunner te maak. Sy skedel was 10 mm dikker in vergelyking met dié van ander kinders van dieselfde ouderdom.

Teen sy 12de verjaardag was hy reeds 19 keer op die operasietafel.

Maar wanneer jy met Heinrich praat, hoor jy sommer dat die liefde vir krieket sterk deur sy are bruis.

“Ek wil eendag vir Suid-Afrika speel, terwyl ek graag ook by die Indiese Premierliga in aksie wil wees. Dit is my droom om die beste veelsydige speler ter wêreld te word – selfs beter as Engeland se Ben Stokes,” het Heinrich gesê.

Hy het begin krieket speel toe hy nege jaar oud was en as bybreekbouler ken hy Shane Warne se legendariese “Aflewering van die Eeu” baie goed.

Die Aussie-draaier het in die Reeks om die As van 1993 vir Mike Gatting met ’n briljante aflewering skoongeboul. Die bal het vér buite Gatting se bypen grondgevat en baie gedraai om sy wegpen te tref.

Hy is ’n kranige bybreekbouler. Foto: Verskaf.

Hy werk nou juis aan sy boulwerk-variasies saam met Maurice Aronstam, die voormalige Titans-krieketspeler. Met die skoolvakansie om die draai sal daar volgende jaar aan sy flipper-aflewering geskaaf word.

Heinrich het al toekennings as die kolwer en bouler van die jaar gewen, terwyl hy ook met die speler van die jaar-trofee weggestap het. As graad 6-leerder was hy op ’n kriekettoer saam met ’n graad 8-span van die Hoërskool Menlopark.

“Dit is net lekker om ’n bal te slaan en ek geniet die gees van die spel, veral wanneer ons almal saam veldwerk doen.”

Foto: Verskaf.

Dit gaan ook beter op die gesondheidsfront en volgens sy ma het daar geen verdikking sedert sy laaste operasie plaasgevind nie.

Heinrich Badenhorst se gunstelinghou is ’n reuse-ses van 84 m teen ’n gedugte teenstander. En tans is hy besig om marmerbeensiekte ook vir ’n ses te slaan.

Verwag dus nog ’n hele paar lekkerlees-hoofstukke in sy lewensverhaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.