Markram sal sy toetssokkies moet optrek

Aiden Markram pak die pad terug na die kleedkamer aan. Foto: Lindsey Parnaby/AFP.

Niemand kan oor Aiden Markram se spelpeil in witbalkrieketwedstryde kla nie. Die 27-jarige speler is derde op die Internasionale Krieketraad (IKR) se lys vir T20-kolwers, terwyl sy boul- en veldwerk ook ’n deurslaggewende rol vir die Proteas kan speel.

Op die toetskrieketverhoog sorg sy kolfwerk egter vir baie meer vraagtekens as selfversekerde uitroeptekens.

In die twee toetse teen Engeland kon hy nog net 36 lopies teen ’n swak gemiddeld van 12 lopies per beurt bymekaar skraap.

In die jongste wedstryd op Old Trafford het hy sy paaltjie met aggressiewe houe verloor – ’n trekhou teen Ben Stokes en ’n groot dryfhou teen Stuart Broad.

En wanneer jou span kniediep in die moeilikheid is, is oordeelkundige houespel beslis die beter keuse.

“Ek dink eerlikwaar ons het nie nou goed gekolf nie. Ja, die bal het rondbeweeg, maar hierdie is toetskrieket en jy moet dit kan hanteer,” het Dean Elgar ná die afloop van die toets in Manchester gesê.

“Ons kort meer lopies van ons middelorde-kolwers en op die oomblik laat dié aspek van die spel ons in die steek.”

Rassie van der Dussen se vingerbesering beteken dat Markram waarskynlik nóg ’n kans op die Oval sal kry om sy vaardighede uit te stal.

Die Titans-kolwer is eintlik ’n enigma. Hy beskik ongetwyfeld oor bakkievragte talent, maar wanneer sy selfvertroue ’n knou kry, lyk dit soms of hy sal sukkel om ’n lopie by ’n Shoprite-uitverkoping te koop.

Brendon McCullum, Engeland se afrigter, het vroeër in ’n onderhoud met die Britse media gesê dat hy sal aanhou om ’n sukkelende speler soos Zak Crawley te kies omdat Crawley oor genoeg talent beskik om ’n toets vir die Bleekbene te wen.

Markram het beslis meer talent as Crawley, maar hy sal een of ander tyd vir die Suid-Afrikaanse keurders se vertroue in hom moet vergoed.

  • Markram se tellings in sy laaste vier beurte:

T20-wedstryde:  27, 56, 51* en 52*.

Toetse: 6, 14, 16 en 14.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

George ·

Ek weet nie hoe jy kan se hy het meer talent as n ander nie, of wys dit dan sy swak werk ethic? Hy moes al 10 toetse terug gedrop gewees het, Malan perform seisoen na seisoen, maar Aiden kry kans na kans.
En Elgar, ons kort meer lopies in ons aanvangkolwers, jou performances is net so power. Meer blaf as byt

piet ·

Ja nee wat, talent kan jou net sover bring dan moet jy begin perform. Kry dan maar ‘n minder talentvolle staatmaker wat bestendig is en darem gereeld 30 lopies per beurt kan bydra.

Peter ·

Mees overrated speler in die span, raak ontslae en kry iemand wat gewoond is om onder druk te perform

Mike ·

33 toetse teen gemiddelde van 34.05. Dis nie wereldklas vir n toporde kolwer nie. Onteensegtlik het hy talent maar het hy die sielkundige ingesteldheid om 50’s in groot hondertalle te omskep?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.