Proteas sal hul sokkies moet optrek

Die Protea-kaptein Dean Elgar. Foto: Sanka Vidanagama/AFP.

Ná die eerste toets is daar baie vrae oor die Proteas se vertoning in Christchurch.

Waarom kan die kolwers nie lopies slaan nie?

Hoekom staan die boulers so baie lopies af?

Wat is die rede vir die swak veldwerk?

Maar vandag se belangrikste vraag is waarskynlik “kan die Proteas in die tweede toets terugbaklei?”

En volgens Dean Elgar (kaptein) beskik sy span inderdaad oor die vermoë om in die komende wedstryd beter krieket te speel. Want sou hulle verloor sal hulle die eerste Suid-Afrikaanse span in die geskiedenis word om in ’n reeks teen Nieu-Seeland die onderspit te delf.

Ja, die boulers het meer as vier lopies per beurt afgestaan, maar die kolwers het met twee onbeholpe vertonings vorendag gekom: Tellings van 95 en 111 is doodeenvoudig net nie goed genoeg nie.

Temba Bavuma se 41 in die Suid-Afrikaners se tweede beurt was die besoekers se beste poging met die wilgerlat. Maar tussen al die nulletjies en teleurstellings deur staan Aiden Markram se naam uit.

Die talentvolle kolwer kan deesdae om een of ander rede kwalik ’n lopie by ’n kettingwinkel se jaarlikse uitverkoping koop en hy handhaaf ’n eina-gemiddeld van 9,70 in sy laaste tien toetsbeurte.

Dit is hoe ’n mens Aiden Markram sal wil sien. Argieffoto.

“Ek het ’n hele paar harde gesprekke met hom gehad; hy móét weer begin om lopies vir die span te slaan. Aiden het begrip vir die situasie waarin hy homself tans bevind – sy plek in die span is in gedrang,” het Elgar gesê.

Die Protea-kaptein glo egter dat goeie spelpeil net een kolfbeurt weg is. ’n Kolwer is nie so goed soos sy vorige beurt nie, maar wel sy volgende.

’n Mens wil egter die Markram-dryfhou onthou; nie die kop-onderstebo-stappie terug na die kleedkamer nie.

Dit is tyd dat hy die span se vertroue in hom terugbetaal.

Tog sal dit baie onregverdig wees as die media en ondersteuners die blaam vir die eerste toets- fiasko alleenlik op sy skouers plaas – daar is ’n hele paar ander spelers wat ook hul sokkies sal moet optrek.

Die Proteas se finale elftal sal waarskynlik net voor die aanvang van spel bekendgemaak word. En volgens Elgar kan daar selfs ’n paar nuwe gesigte in die span wees.

Eintlik kan die Suid-Afrikaners nie veel swakker as in die eerste toets speel nie.

Maar kan hulle die komende wedstryd wen?

Net die spelers het die antwoord op daardie vraag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.