Proteas wen loot; stuur Indië in om te kolf

Temba Bavuma. (Argieffoto: Hansie Linde)

Suid-Afrika het die loot gewen en Indië ingestuur om te kolf in die eerste toets wat Dinsdag op SuperSportpark in Centurion beslis word.

Die aanvang van spel is met 30 minute vertraag oor nat kolle op die kolfblad wat sedert Sondag met seile toegemaak is nadat groot reën die afgelope ruk oor dele van Gauteng uitgesak het.

“Die kolfblad is die afgelope twee dae bedek en as daar ʼn bietjie vog in die blad is, sal ons dit wil gebruik,” het Protea-kaptein Temba Bavuma gesê.

Suid-Afrika het twee nuwelinge in die span in kolwer David Bedingham en snelbouler Nandre Burger.

Volgens Bavuma het snelbouler Lungi Ngidi van ʼn enkelbesering herstel, maar word hy nog nie as wedstrydfiks beskou nie.

Indiese kaptein Rohit Sharma het gesê hy is onseker oor of hy sy span wil laat kolf of boul.

“Daar is ʼn bietjie gras en vog. Ons begryp die uitdaging daarvan om eerste te kolf, maar ons weet wat om te verwag.”

Meer reën word boonop later in die dag verwag.

Só lyk die spanne

Suid-Afrika:

Temba Bavuma (k), Dean Elgar, Aiden Markram, Tony de Zorzi, Keegan Petersen, David Bedingham, Kyle Verreynne (paaltjiewagter), Marco Jansen, Gerald Coetzee, Kagiso Rabada, Nandre Burger.

Indië:

Rohit Sharma (k), Yashasvi Jaiswal, Shubman Gill, Virat Kohli, Shreyas Iyer, KL Rahul (paaltjiewagter), Ravichandran Ashwin, Shardul Thakur, Jasprit Bumrah, Mohammed Siraj, Prasidh Krishna.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.