SA20 beloof groter vuurwerkvertoning

Die Sunrisers Eastern Cape is die wenners van die SA20-toernooi. (Foto: Twitter.)

Die eerste SA20-toernooi was die perfekte doepa vir Suid-Afrikaanse krieket om weer aan die gang te kom. Met elke grenshou en paaltjie het ʼn mens ʼn bietjie meer van die fiasko in die raadsale en die gesukkel op die speelveld teen Australië vergeet.

Nou beloof die tweede weergawe van die mik-en-moker-toernooi om op dié sukses voort te bou. ʼn Groter en helderder vuurwerkvertoning, as jy wil.

ʼn Mens kan seker die spanbase as modelle vir ʼn tandepasta-advertensie gebruik; hulle glimlag immers deesdae baie breed.

Elke span sal nou R39,1 miljoen – danksy ʼn bykomende inspuiting van R5,1 miljoen – in sy bankrekening hê om van die beste plaaslike en internasionale talent na sy kamp te lok.

Die groepe is ook tot 19 spelers vergroot, mits elke span dan ʼn jong Suid-Afrikaner
(nie ouer as 22 nie) deel van sy opset maak. Elke franchise moet ook ʼn minumum van 11 plaaslike spelers bevat.

Op wedstrydae mag daar vier oorsese spelers in die elftal wees.

Dewald Brevis laat waai vir die MI Cape Town-span.( Foto: Twitter/SA20.)

“Die nuwe regulasies sal die toernooi ʼn definitiewe hupstoot gee en sportliefhebbers kan topgehalte krieket in die tweede seisoen verwag,” sê Graeme Smith, toernooi-kommissaris.

Volgens die voormalige Protea-kaptein hou die toernooi ook ʼn ogie op die toekoms van Suid-Afrikaanse krieket en die klem word op die ontwikkeling van jong spelers geplaas.

“Ons het vanjaar reeds ʼn paar spesiale vertonings deur die jonger spelers gesien en die komende toernooi sal ongetwyfeld nog ʼn geleentheid vir hulle skep om hul vaardighede uit te stal.”

Die Sunrisers Eastern Cape het in Februarie die eerste wenners van die SA20-toernooi geword toe hulle die Pretoria Capitals met vier paaltjies in Johannesburg geklop het.

Benewens die heldedade van ervare spelers soos Faf du Plessis, Aiden Markram, Jos Buttler en Roelof van der Merwe, het Eathan Bosch ook vir sy span geskitter.

Die jong Capitals-speler het naas Anrich Nortjé die tweede meeste paaltjies vir die Pretorianers geneem. Hy het 15 kolwers terug na die kleedkamer in sy 12 wedstryde gestuur.

Die oudleerling van Hilton College was op sy beste in die halfeindstryd teen die Paarl Royals op die Wanderers toe hy 22 lopies geslaan het en twee paaltjies geneem het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.