Krieket Suid-Afrika (KSA) het Dinsdag aangekondig dat hy sy dissiplinêre klagte – insluitend klagte van rassisme – teen die Protea-hoofafrigter, Mark Boucher, laat vaar.
Die nasionale krieketbeheerliggaam het ook aangedui dat hy tot Boucher se regsonkoste sal bydra.
Dié aankondiging volg kort nadat Paul Adams, voormalige Protea-draaier, op sosiale media bevestig het dat hy nie in Boucher se komende dissiplinêre verhoor sal getuig nie.
Adams, wat vroeër aangevoer het dat Boucher een van die spelers was wat hom destyds “brown sh*t” genoem het, se getuienis was immers kern tot die saak teen die beleërde afrigter.
In ʼn verslag deur KSA se projek vir maatskaplike geregtigheid en nasiebou (SJN) wat op die aantygings gevolg het, is Boucher saam met groot krieketname soos AB de Villiers en Graeme Smith van rassisme beskuldig.
KSA het Dinsdag gesê daar is egter geen verdere gronde om enige klagte teen Boucher te handhaaf nie. “Die KSA-raad het gevolglik alle klagte formeel en onvoorwaardelik teruggetrek.”
Dit sluit aanklagte in wat uit bevindings in die SJN-verslag gespruit het.
Boucher se verhoor sou volgende Maandag begin.
Luidens KSA se verklaring het verskeie faktore die uiteindelike besluit beïnvloed, waaronder Adams se aankondiging. KSA meld dat Boucher ook tydens die proses wat deur SJN ingestel is formeel aan Adams om verskoning gevra het en dat dié verskoning later deur Adams aanvaar is.
Enoch Nkwe, voormalige Protea-hulpafrigter, het boonop aangedui dat hy ook nie tydens die verhoor teen Boucher sal getuig nie.
“Mnr. Nkwe het openlik verklaar dat hy nie van plan is om kant te kies nie en dat hy hoop ‘wat ook al in daardie proses gebeur eindelik tot voordeel van die spel sal wees’.
“KSA se prokureurs het ook in die afgelope maande met verskeie moontlike getuies geskakel en tot die gevolgtrekking gekom dat nie een van die klagte teen Boucher volhoubaar is nie.”
Lawson Naidoo, voorsitter van die KSA-raad, sê die organisasie is te alle tye daartoe verbind om die SJN-kwessies op ʼn ernstige wyse te hanteer, maar ook met regverdigheid en ʼn behoorlike proses wat afsluiting verseker.
“Die besluit om die klagte terug te trek bring aan KSA en Boucher afsluiting oor dié kwessie. Die fokus kan nou weer na die krieketveld terugkeer waar ons vertrou Mark Boucher en die Proteas van krag tot krag sal gaan.”
Naidoo sê voorts die SJN-proses het nooit “net oor die gedrag van individue” gegaan nie.
Volgens hom het die proses grotendeels ten doel gehad om aan mense wat by krieket betrokke is ʼn platform te bied om hul persoonlike ervarings van ras- en geslagsdiskriminasie te deel. Dít sodat sistemiese maatreëls ingestel kan word om dié probleme vorentoe uit die weg te ruim en reg te stel.
“Die SJN-proses het dit beslis bereik en die direksie vertrou dat die huidige span ʼn kultuur van wedersydse respek en inklusiwiteit geniet.”
Pholetsi Moseki, KSA se hoof- uitvoerende beampte, sê die organisasie erken dat die aanklagte wat oor Boucher se kop gehang het, moeilik was om te hanteer.
“KSA betreur dit. Ons het ook waardering vir die feit dat Boucher hom te alle tye behoorlik en professioneel gedra het. Hy het geweier om by openbare debatte oor die klagte ingetrek te word en het steeds sy pligte met toewyding en ywer uitgevoer.
“Die Protea-span se spel gedurende hierdie tydperk was uiters indrukwekkend, veral in die toetsarena. Dit getuig van Boucher, sy ondersteuningspan en die spelers se prestasie.”
KSA sê die organisasie het die pad vorentoe met Boucher bespreek en dat hulle tot ʼn oop dialoog verbind is om Suid-Afrikaanse krieket te bevorder.
“Ons benadruk dat Mark Boucher, Paul Adams en Enoch Nkwe almal gewaardeerde lede van die KSA-afrigtingsbroederskap bly.”
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
38 Kommentare
Een vir Boucher, bloed neus vir KSA
Kla nou vir Paul Adams aan vir wat hy die wit spelers genoem het. Dis ook rasisme. Afriforum kan miskien hiermee help.
Ja Lawson Naidoo, julle het jul bes probeer om wit spelers te verneder en julle sit nou met vrot eier op julle gesigte. KSA is ‘n vernedering en n klomp rassiste, dis mos julle wat spelers dreig as hulle nie die knie wil buig vir julle swart broeders nie. En agter dit alles sit …. die minister v sport
Dit is soooo lekker om te sien hoe die rasbeheptes telkens pakslae vat, selfs in die media en howe. Een vir een kry hulle pak, individue en regering.
Baie bly/dankbaar dat geregtigheid seëvier