Titane van die plaaslike T20-verhoog

Die Titans spog met die T20-silwerware. Foto: Twitter.

As die Proteas maar net vóór hul rampspoedige kragmeting teen Nederland na die hoogtepunte van gister se plaaslike T20-eindstryd tussen die Titans en die Dolphins gekyk het, sou hulle dalk ʼn paar waardevolle lesse geleer het.

Want die Pretorianers het met ʼn uitstekende lopiejaagtog vorendag gekom om vir die soveelste keer met die mik-en-mokerlouere weg te stap toe hulle die wedstryd in die finale boulbeurt met vier paaltjies gewen het.

Toe Neil Brand sy paaltjie met die telling op 98/5 in die 14de boulbeurt verloor het, het die wenteiken van 164 taamlik ver weg gelyk.

Maar ʼn uitstekende vennootskap van 63 lopies vanaf slegs 34 aflewerings om die sesde paaltjie tussen die opwindende Donavon Ferreira en Dayyaan Galiem het die wa deur die drif vir die Titans getrek.

Ferreira het weliswaar sy paaltjie in die laaste boulbeurt verloor, maar Galiem het die wedstryd met ʼn grenshou beklink.

Vroeër is die reeks se twee topkolwers – die Dolphins se Grant Roelofsen en die Titans se Dewald Brevis – goedkoop uitgeknikker.

JJ Smuts en Keegan Petersen het die beurt weer op koers vir die Durbaniete gekry, terwyl Theunis de Bruyn ook ʼn stewige vertoning vir die Titans gelewer het.

  • Opsomming van telkaart:

Dolphins 162/3 in 20 boulbeurte: JJ Smuts 69, Keegan Petersen 63 en Dayyaan Galiem 1/18

Titans 165/6 in 19,4 boulbeurte: Donavon Ferreira 40, Galiem 32* en Smuts 2/25

  • Topkolwers in die toernooi:
  1. Grant Roelofsen (Dolphins): 333 lopies teen ʼn gemiddeld van 47,57 en ʼn treftempo van 132,66
  2. Dewald Brevis (Titans): 327 lopies teen ʼn gemiddeld van 36,33 en ʼn treftempo van 176,75
  3. Jiveshan Pillay (Titans): 234 lopies teen ʼn gemiddeld van 29,25 en ʼn treftempo van 110,90
  4. Janneman Malan (Boland): 216 lopies teen ʼn gemiddeld van 36,00 en ʼn treftempo van 117,39
  5. Wiaan Mulder (Lions): 205 lopies teen ʼn gemiddeld van 51,50 en ʼn treftempo van 140,13.
  • Topboulers in die toernooi:
  1. Bamanye Xenxe (Boland): 18 paaltjies teen ʼn gemiddeld van 11,05
  2. Ottniel Baartman (Dolphins): 15 paaltjies teen ʼn gemiddeld van 14,40
  3. Gerald Coetzee (Knights): 13 paaltjies teen ʼn gemiddeld van 13,76
  4. Prenelan Subrayen (Dolphins): 13 paaltjies teen ʼn gemiddeld van 14,23
  5. Aaron Phanigos (Titans): 12 paaltjies teen ʼn gemiddeld van 16,66.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Casper ·

Brewis is baie goed maar selfs hy kan misluk met die kolf maar in dieselfde asem kan jy vra wie blink uit by die proteas behalwe Anrich Nortje.Om een goeie beurt tydens ‘n wêreld beker te speel is nie goed genoeg om die toernooi te wen nie vra maar vir Australië en die Chokers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.