Wêreldkrieketbeker: Leë stadions, beserings en rekords wat spat

Die stadions by vanjaar se Krieketwêreldbeker is bra leeg (Foto: Noah Seelam/AFP)

Hoewel daar in die eerste vier dae van die Wêreldbeker-kriekettoernooi rekords gespat het, was daar ook opmerklik min ondersteuners in die stadions, terwyl talle beserings onder spelers aangemeld is.

Nieu-Seeland se Devon Conway en Rachin Ravindra het albei honderdtalle op die openingsdag behaal toe hulle die huidige kampioen, Engeland, ore aangesit het.

Quinton de Kock, Rassie van der Dussen en Aiden Markram het ook almal honderdtalle vir Suid-Afrika aangeteken in die Proteas se oorwinning met 102 lopies teen Sri Lanka. Dit was die eerste keer dat ʼn span met drie honderdtalle in dieselfde beurt gespog het.

Aiden Markram het ’n barshou teen Sri Lanka gespeel. (Foto: Sajjad Hussain/AFP)

Markram het ʼn nuwe rekord opgestel vir die vinnigste Wêreldbeker-honderdtal met 49 balle, terwyl Suid-Afrika se 428-5 die hoogste totaal ooit in die toernooi se geskiedenis is.

Sri Lanka se boulers Matheesha Pathirana (1-95) en Kasun Rajitha (1-90) het meer as 180 lopies tussen hulle aan 20 boulbeurte afgestaan.

Sri Lanka se 326 lopies (almal uit) het die wedstryd in Nieu-Delhi die Wêreldbeker-wedstryd met die hoogste punte gemaak.

Die eerste vier dae het ook 12 vyftigtalle ingesluit, ook dié deur Virat Kohli (85) en KL Rahul (97 nie uit nie) nadat Indië tot 2-3 teruggesak het en 200 gejaag het om Australië Sondag te verslaan.

Ondanks dié rekords was die betreklik leë stadions teleurstellend en die gebrek aan bywoning skep vrae oor die langtermyntoekoms van die Wêreldbeker-kriekettoernooi.

Leë stadions

(Foto: Noah Seelam/AFP)

Die Wêreldkrieketbeker is gewoonlik ʼn spoggeleentheid vir die spanne, met miljoene geharde aanhangers wat vroeg-vroeg al kaartjies koop om teleurstelling te verhoed. In die eerste vier wedstryde van vanjaar se toernooi was die stadions egter bra leeg.

Die Wêreldbeker-organiseerders was optimisties en het geraam dat sowat 40 000 ondersteuners die openingswedstryd tussen Nieu-Seeland en Engeland by die Ahmedabad-stadion sou bywoon. Dié stadion het 132 000 sitplekke en is die wêreld se grootste krieketstadion.

Toe Suid-Afrika Saterdag die rekords teen Sri Lanka laat spat het, was daar sowat 10 000 ondersteuners op Nieu-Delhi se Arun Jaitley-stadion. Dit is slegs ʼn kwart van die stadion se kapasiteit van 40 000 sitplekke.

“Mense woon nie die krieket by nie. Ons moet dit dalk oorweeg om kaartjies weg te gee om seker te maak die stadions is voller gepak,” het Michael Vaughan, oudkaptein van Engeland se krieketspan, gesê.

Pakistanse ondersteuners wat desperaat was om hul span in Hyderabad te sien speel, is gepootjie deur vertragings met die toestaan van visums.

Die Raad van Beheer vir Krieket in Indië (BCCI) het Sondag aangekondig dat hy 14 000 kaartjies beskikbaar stel vir die kragmeting tussen Indië en Pakistan in Ahmedabad komende Saterdag.

Die datum van daardie wedstryd is weens veiligheidsvrese reeds met ʼn dag vervroeg en beteken dat agt ander wedstryde ook herskeduleer is. Aanhangers was vies omdat hulle reeds vlugte en hotelverblyf bespreek het.

Beserings

Engeland se verdediging van hul titel het begin sonder hul kolwer, Ben Stokes, wat ʼn heupbesering opgedoen het. Hy kan weens ʼn kniebesering ook nie boul nie.

Stokes, die ster van die epiese Wêreldbeker-eindstrydoorwinning in 2019 teen Nieu-Seeland op Lord’s in Engeland, het in Indië aangekom nadat hy verlede maand ʼn Engelse rekordtelling van 182 in ʼn eendagwedstryd teen die Kiwi’s behaal het.

“Hy is nie Superman nie. Dit gaan nie alles net oor Stokes wat terugkom en als verower nie,” het spanmaat Mark Wood gesê ná Donderdag se negepaaltjie-nederlaag teen die Black Caps in Ahmedabad.

Sri Lanka trek ook swaar weens ʼn vlaag beserings; boulers Wanindu Hasaranga en Dushmantha Chameera moet die ganse toernooi op die kantlyn sit, terwyl bouler Maheesh Theekshana vir die nederlaag teen Sri Lanka op die plaasvervangerbank was.

Die vyfmalige kampioen Australië het ook die kolwer Travis Head op die krukkelys in die hoop dat sy gebreekte hand betyds sal genees vir die res van die toernooi.

Die Aussies het byna vir Adam Zampa in ʼn fratsongeluk verloor toe hy teen die muur van die swembad by die spanhotel ingeswem het, ʼn verleentheid wat hom ʼn “bietjie seer gelaat het”, het kaptein Pat Cummins gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Miena ·

Ek het die krieket sover nog geniet – in my sitkamer. Dit was meer opwindend as die rugby die afgelope week of wat. Ek kan nie wag vir 2027 wereld beker toernooi wat tussen SA / Namibie & Zim gehuisves word nie. Ek gaan beslis kaartjies koop en bywoon – indien ek gespaar word. Ek het ook al klaar vir my werksmense gese hulle kan maar weet ek gaan n paar dae nie by die werk wees nie hehehe. Proteas – julle het baie baie goed gespeel en geluk met julle rekords. Ek het bos gegaan in my sitkamer amper asof ek langs die veld was elke keer wat daar aksie was. Nou le Donderdag 12 Okt teen Aus voor maar ek reken ons gaan hulle sommer kafdraf gou-gou weer as ek die Ausies krukkelys so kyk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.