Mening: Kwota-dreigemente, goeie vertonings in vele sporte kenmerk SA se sportjaar

(Foto: Phill Magakoe/AFP)

Die jaar 2023 sal, uit ʼn sport-oogpunt, as spesiaal onthou word – hoofsaaklik, en vir baie mense uitsluitlik, oor die wen van ʼn vierde Rugbywêreldbeker deur die Springbokke.

Ek is egter jammer dat ek eers later by ander hoogtepunte – en ook ʼn klompie verdere laagtepunte – van die Sportjaar 2023 sal uitkom.

En dis veral krieket wat ek eerste onder die loep neem, want dit krap.

Ons krieket, wat op eersteklas (provinsiale) vlak gedy en ook onder die leierskap van Graeme Smith as kommissaris vanjaar die gewilde en ook uiters winsgewende SA20 aangebied het, is alweer besig om geluide te maak om met die reeds skandalige kwotastelsel te lol.

Die toetsafrigter Shukri Conrad, wat ná hy die Proteas se suksesvolle toetskaptein Dean Elgar (met ʼn wengemiddeld van meer as 56%) reeds met Temba Bavuma vervang het, dink daaraan om ʼn nuwe aanvangskolwer (sommer ook as kaptein) teen Nieu-Seeland in te span.

Dit word genoodsaak omdat Bavuma in die SA20-reeks speel en Elgar as kaptein vir Conrad onaanvaarbaar is. Die SA20-reeks se finansiële sukses maak dat die twee oorsese toetse in Nieu-Seeland, wat met die kitskrieket bots, sonder die beste toetsspelers sal moet klaarkom.

  • Daar is in ʼn Sondagkoerant bespiegel dat Conrad vir Neil Brand van die Titans as aanvangskolwer en ook kaptein teen Nieu-Seeland in die reeks by die Kiwi’s oorweeg, omdat moontlike kapteins Aiden Markram en Temba Bavuma in die SA20-kitsreeks moet speel.

ʼn Kykie na sy vertonings toon die volgende onlangse tellings van Brand, wat die SA ‘A’-kaptein in die pas-afgelope reeks teen Wes-Indië ‘A’ was:

183 lopies teen 30,5 lopies per beurt in die volgorde vanaf die eerste tot derde nie-amptelike “toets” verlede maand: 62 en 4, 4 en 4, 5 en 104. Hy het ook 3 paaltjies vir 80 teen Wes-Indië ‘A’ geneem.

In sy voorafgaande eersterangse beurte het Brand vir die Titans 0 en 17 teen die Dolphins gemaak, en teen die Boland 19 en 36. In dié twee wedstryde was sy syfers as ortodokse hotklou-draaibouler 2/73.

Brand, begaafd soos hy is, sukkel tans met die kolf. Is hy ʼn man wat in die voetspore van ʼn Graeme Smith, Dean Elgar, Hashim Amla, Faf du Plessis, Kepler Wessels, Shaun Pollock en diesulkes moet loop?

ʼn Mens vra dit ondanks sy skaflike eersteklas kolfgemiddelde van 39,97 lopies per beurt plus sy oes van 62 paaltjies teen 33 lopies per paaltjie oor die jare.

Hoekom nie Elgar nie?

Dean Elgar. (Foto: Adrian Dennis/AFP.)

Wat is fout met Elgar as kaptein? Hy spog met ʼn goeie 53,9% wengemiddeld as toetskaptein en het meer toetshonderdtalle as die res van die huidige toetsspelers saam in sy loopbaan geslaan.

Conrad het nog nie hierdie vraag bevredigend beantwoord nie, maar staan vas by sy vorige besluit: Elgar is nie ʼn opsie nie.

Dus: Vermaak vir toeskouers en geld in die koffers word belangriker as toetskrieket geag…

Kry krieket ʼn strenger kwotastelsel?

En dan is daar die “dreigement” van toenemend strenger kwotastelsels.

Die aantal spelers van kleur sal geleidelik vermeerder word en sal, volgens ʼn Krieket SA-omsendskrywe, teen 2030 60% spelers van kleur insluit waarvan 36% etniese swart spelers moet wees. Dit beteken daar sal net plek vir vier blankes in die nasionale elftalle wees.

Vir die komende o.19-Khaya Majola-week in Januarie moet elke spangroep van 15 ten minste sewe gekleurde spelers insluit, waarvan ten minste drie etniese swart spelers moet wees. Twee van die topkolwers in elke wedstryd moet etniese swart spelers wees en al 15 spelers moet minstens vyf wedstryde speel.

  • Terloops, die DA, Suid-Afrika se tweede grootste politieke party, het verlede maand in ʼn verklaring gesê dat hy Krieket SA by die ICC (krieket se wêreldliggaam) gaan verkla oor sy voorgeskrewe kwotastelsels by die kies van spanne.

Die Wêreldbeker se nalatenskap

Daar is al veel oor die Springbokke se tweede opeenvolgende oorwinning van die Webb Ellis-trofee geskryf en gesê.

Die Springbokke tydens hul segetoer in die Oos-Kaap. (Foto: Twitter / Springboks)

Die tuiskoms van die Bokke ná die afgelope Wêreldbeker-toernooi en hul ontvangs op die lughawe en ook die toer deur van Suid-Afrika se groot sentra en die Oos-Kaap (waar Swart-rugby al feitlik 160 jaar gespeel word), was landswyd ʼn groter gebeurtenis as in 1995 met die eerste Wêreldbeker wat deur die Bokke gewen is.

En rugby is vanjaar deur die hele nasie en alle bevolkingsgroepe gevier. Dit is nou, ná vele jare van onverkwiklikheid weens politiek, werklik as ons nasionale sport aanvaar.

In so ʼn ekstra stappie van lekkerkry kan ʼn mens bylas dat slegs een van ons vier titels (in 1995 teen Nieu-Seeland) in Suid-Afrika gewen is en die ander drie in 2007, 2019 en 2023 onderskeidelik in Frankryk (teen Engeland), in Japan (teen Engeland) en pas weer in Frankryk.

Ons grootste ou vyand Nieu-Seeland het dit twee keer tuis (in 1987 en 2011, albei kere teen Frankryk) en net ʼn enkele keer weg, op Twickenham teen Australië, gewen.

Die Springbokke het boonop twee van hul titels (1995 en vanjaar) teen Nieu-Seeland en twee teen Engeland (in 2007 en 2019) gewen.

Bokke se 2024 is vol uitdagings teen die heel bestes

In 2024 wag daar yslike uitdagings op die Springbokke.

Die tradisionele besoek deur ʼn oorsese span vanuit die Noorde tydens die halfjaarlikse toetsvenster bring vir ons twee puik toetse teen Ierland, wat tweede ná Suid-Afrika op die wêreldranglys is.

Die All Blacks, derde op die ranglys, speel albei hulle toetse en Argentinië een in Sanzaar se Rugby kampioenskap teen die Springbokke in Suid-Afrika en daar is ook ʼn eerste wedstryd teen Portugal.

Die Rugbykampioenskap se wegtoetse is twee teen Australië en een teen Argentinië. Daar is ook in November jaareindtoetse in Europa wat nog nie gefinaliseer is nie.

Die Bokke se 2024-tuistoetse is:

6 Julie: Suid-Afrika vs. Ierland (Loftus Versfeld)

13 Julie: Suid-Afrika vs. Ierland (Kings Park)

20 Julie: Suid-Afrika vs. Portugal (veld sal bepaal word)

31 Augustus: Suid-Afrika vs. Nieu-Seeland (Ellispark)

7 September: Suid-Afrika vs. Nieu-Seeland (DHL-stadion)

28 September: Suid-Afrika vs. Argentinië (Mbombela-stadion)

Ook ʼn goeie jaar in die Europese kompetisies

Ná twee seisoene in die Verenigde Rugbykampioenskap was daar reeds drie Suid-Afrikaanse spanne in die eindstryd.

In die 2021/22-reeks het die Stormers met 18-13 op die DHL-stadion teen die Bulls deurgeskraap.

En vanjaar het die Stormers egter, weer op hul tuisveld, in die doodsnikke verloor teen Munster, wat die wedstryd met 19-14 gewen het.

Tuis het die provinsiale spanne sonder sterre en oorsese verpligtinge die Curriebeker se status as ʼn top-kompetisie gestand gedoen.

Die Cheetahs het vanjaar by die Pumas as Curriebeker-kampioen oorgeneem. Intussen is die Cheetahs na Italië waar hulle “tuisveld” is en hul aan die Europese Rugby-uitdaagreeks deelneem.

Saterdag, in hulle eerste wedstryd in vanjaar se reeks, het die Cheetahs Zebre van Italië 33-15 geklop.

Die Leeus lyk ook of hulle vanjaar meer dringendheid en samespel het en het 28-12 teen die Franse se Perpignan gewen, en die Sharks het Pau van Frankryk met 45-5 opgefrommel.

Die Durbaniete het in die wedstryd na die sterk span gelyk wat hulle behoort te wees nadat hulle vroeër die seisoen gesukkel het.

In die Heinekenbeker-kompetisie, moontlik die wêreld se strafste en mees mededingende klubkompetisie het die Stormers, sonder heelparty van hul heel bestes, met hulle amperse tweede span reg teen die einde teen die Engelse kampioenspan Leicester verloor.

Handré Pollard, Jasper Wiese en ook Hanro Liebenberg het al drie vir Leicester uitgeblink.

Wat skort by die Blitsbokke?

Die Blitsbokke het in 2022/23 in die eerste twee toernooie 10 punte en toe volpunte vir ʼn oorwinning gekry, maar verder gesukkel.

Hulle het toe met die uitsondering van ʼn eindstryd (verloor) ook een derde en een vierde plek en ook vier vyfde plekke op hul kerfstok gehad.

Die Blitsbokke het in Kaapstad gesukkel. (Foto: Hansie Linde)

Dit het aan hulle die sewende plek in die reeks gegee – en met net die eerste ses wat vir die Olimpiese Spele gekwalifiseer het plus nog ses lande wat deur streeksuitdunne plek sou kry, het die Blitsbokke toe skande gemaak toe hulle in die Afrika-uitdunne vir die Spele deur Kenia geklop is.

En die afgelope maand het hulle weer vroeg geblink en toe vrotsig en lusteloos in Kaapstad vertoon. Is dit leierskap? Die talent is immers daar.

Die vroue het verlede jaar net in een toernooi (in Kaapstad) gespeel en toe 12de geëindig, soos ook vanjaar.

Die vroue het beter gelyk in vanjaar se eerste toernooi in Dubai, maar beserings saam met ʼn gebrek aan diepte het hul selfvertroue ʼn knou gegee wat in Kaapstad baie duidelik was.

Hulle het egter deur die Afrika-uitdunne vir die Olimpiese Spele gekwalifiseer.

Vroue verbeter en Bulls Daisies oorheers

Die Suid-Afrikaanse vrouespan is egter met vyftiens aan die opmars, en met die toenemende diepte en gehalte behoort ons binnekort teen die sterker lande te begin stem dik maak.

Plaaslik het die Bulls, wat onlangs bekendgemaak het dat nog ses spanne by hul vroue-ligaspanne vir die seisoen aangesluit het, die provinsiale kompetisie heeltemal oorheers.

Willem Strauss-hulle het in Mei vanjaar 35 van die land se beste vroue en pas nòg twee uit die Bulls se klubliga gekontrakteer. Boonop het die Bulls se vroueliga ook ses spanne vir aanstaande jaar bygekry.

Die Bulls Daisies was onoorwonne in die nasionale liga met bonuspunte in al 12 ligawedstryde en het dus ʼn volle 60 ligapunte gehad. Die WP, wat in die eindstryd met 69-8 deur die Daisies geklop is, het 42 bonuspunte in die liga-fase gehad.

Die Bulls se vrouespan het 702 punte teen net 51 in die reeks aangeteken.

Boland steek kers op by die Bulls

ʼn Mens hoef net te kyk na hoe die Bulls en Blou Bulle – mans en vroue –  gewoeker het ná die verkryging van 74% van die Bulls se aandele deur Patrice Motsepe en Johan Rupert.

Die Bulls, by al hul afgelope suksesse, het vanjaar met Bulle-geïnspireerde planne die nuwe nasionale oorgrens Uxi-kompetisie vir o.20 klubs ingestel, van vrouerugby ʼn krag gemaak, die Gold Cup vir die beste klubspan (Naka Bulle) in die land ná ʼn landswye uitklopreeks gewen, en hul spelers slim aangekoop om diepte te verseker wat met die baie rugbyreekse die deurslag kan gee.

Hulle juniors word aan naburige bonde vir o.20-kompetisies geleen, en die Bulle se regstellende beleid is moontlik die voorste in die land op klubvlak.

  • Motsepe en Rupert het, soos hulle by die Bulls Maatskappy gedoen het, pas 74% van Boland se aandele bekom en borg dus die bond met sy 216 rugbyklubs – stellig die meeste ter wêreld. En daar is meer as een span per klub…

Die Boland se president, Bennie van der Rooi, het die afgelope week saam met sy bestuurspan ʼn besoek aan Loftus gebring om te sien hoe die Bulls Maatskappy met sy borgskap te werk gaan in die lig van die baie sake- en rugby-suksesse wat daar behaal is.

Al die SA-bonde speel in 2025 om Curriebeker

Die Curriebeker sal vanjaar in dieselfde formaat as die afgelope jare voortgaan, met agt spanne in die Premierafdeling en ses wat in die Eersteliga sal speel.

Spelers, die relevante beeld-uitsaaiers, borge en die rugbybonde self het besluit op ʼn nuwe tydvak vir die Curriebeker van Julie tot September.

  • In 2025 sal al 14 spanne die kans hê om om die Curriebeker mee te ding met ʼn voorafgaande kwalifiserende kompetisie waaraan al tien die provinsies behalwe die VKR-mededingers sal deelneem.

Die beste vier sal dan met die VKR se vier spanne aan die Curriebekerreeks deelneem terwyl die ander ses spanne weer in die Eersteliga sal speel.

Die Pumas lewer goeie vertonings in die Curriebeker. (Foto: Alita Steenkamp)

Hokkie se skitterpoging deur geld gekelder

Die Suid-Afrikaanse manshokkiespan het verlede jaar in Potchefstroom tuis die Nasiesbeker gewen en daarmee gekwalifiseer om in die internasionale prestige-hokkiekompetisie, die FIH Pro League, te speel.

Die span moes egter van deelname onttrek word omdat die Suid-Afrikaanse Hokkiefederasie nie die finansiële waarborg kon verskaf nie.

Die reeks wat in 2023 en 2024 aangebied word, word in segmente in verskeie lande gespeel. Die vlugkoste tussen bepalings van die 18 spelers plus ondersteunende personeel was net eenvoudig bo die vuurmaakplek van SA se hokkieliggaam.

Net voor die toernooi in Potchefstroom het die Suid-Afrikaanse mansspan en ook die vroue hul beste vertonings nog in internasionale binnenshuise hokkie behaal deur onderskeidelik sesde en vierde te eindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hennie Biebouw ·

“Dus: Vermaak vir toeskouers en geld in die koffers word belangriker as toetskrieket geag…” <—– En daar lê die ding. Sedert die BCCI vir alle praktiese doeleindes, die International Cricket Council vir hulself gekaap het, het toetskrieket begin taan, en word die internasionale toetskalender verwater om plek te maak vir die "hit & giggle" snert, waarvan die IPL die meeste voordeel trek.

kragaap ·

Dis nie moeilik om uit te werk hoekom die bokke die beker in 2019 en 2023 gewen het, en SA se bes presterende nasionale span is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.