Mening: Varsitybeker – Dis mos nie krag teen krag nie!

Die Varsitybeker. Foto: Verskaf.

Die afgelope twee Maandagaande se vier wedstryde in die Varsitybeker-reeks was nie goed vir die kompetisie nie, hoewel die vele permutasies om die laaste plek in die halfeindstryd te vul, dinge darem interessant gemaak het.

Ja, die reeks het in sy 12 jaar baie gedoen vir die identifisering van talent, heelwat vreugde gebring vir studente en oudstudente en sommer vir die hele rugbypubliek. En een of twee van die (dikwels verspotte) reëlveranderings het selfs ʼn bydrae tot die spel gelewer.

Maar in die laaste twee rondes, in die besonder, is die siening van die oud-Springbokkaptein Francois Pienaar, wat ook die uitvoerende hoof is van ASEM (moedermaatskappy van die Varsitybeker), dubbel en dwars onderskryf.

Pienaar het sowat ʼn maand gelede gewaarsku dat die reeks in ʼn klug kan ontaard as dit deur net ʼn paar spanne oorheers word.

Ter agtergrond:

In die voorlaaste ronde is daar in die vier wedstryde 306 punte aangeteken teen ʼn gemiddelde van 76,5 punte per wedstryd. In drie gevalle was daar wegholoorwinnings van onderskeidelik 74-40 (Wits teen Universiteit Wes-Kaap), 60-7 (die Pukke in ʼn wegwedstryd teen die SUT Ixias); en 59-14 (Maties in ʼn wegwedstryd teen die Shimlas).

Die enigste wedstryd waar daar krag teen krag was, was in Pretoria toe Tuks 26 punte in die laaste 30 minute moes aanteken en met 26-elk teen die Ikey-Tigers gelykop gespeel het.

Dit was die afgelope Maandagaand in die laaste ronde amper so erg met 297 punte, insluitende 39 drieë, in vier wedstryde. Daar was groot oorwinnings van 36-10 en 38-14 en wegholtellings van 84-26 en 74-15. In die wedstryd tussen die Maties (16) en UWK (4) is 20 drieë gedruk.

Verlede seisoen is daar een keer meer as 80 punte aangeteken, en in nog 10 van die 32 wedstryde in die kompetisie is 50 of meer punte deur die wenspan aangeteken: vier vyftigtalle, vier sestigtalle, een van 70 punte en die genoemde 82-21: 70-7, 56-21, 75-12, 69-8, 52-18, 54-26, 56-21, 69-33, 82-21, 60-31, 65-18 en 82-21.

En vanjaar het die wenspan in nege wedstryde 50 of meer punte aangeteken. Daar was twee 60-talle, drie 70’s en een telling van 84 aan die wenspan se kant.

♦ Pienaar het groot steun van die deelnemende universiteite gekry nadat hy gesê het daar moet dalk gekyk word na ʼn moontlike beperking op die toekenning van sportbeurse in die reeks.

Die Maties, wat verlede jaar en tot dusver vanjaar nog nie in die reeks verloor het nie en wéér van ʼn tuishalfeindstryd en ʼn moontlike tuiseindstryd verseker is, het volgens mediaberigte nie saamgestem nie.

Punteverskil vertel ʼn eie storie

Tukkies op die aanval. Die Pretoriase span is een van die spanne met ’n positiewe punteverskil. Foto: GB Jordaan.

As ʼn mens na die punteleer kyk, is daar slegs drie spanne wat ʼn batige punteverskil het. Hulle is die Maties (256), die Tukkies (169) en die Pukke (115). Die vierde span in die halfeindstryd, die Shimlas, het 11 punte meer afgestaan as wat hy aangeteken het.

Die UWK se negatiewe punteverskil is 201, wat beteken dat hy sy wedstryde met gemiddeld 25 punte verloor het.

Bostaande was ook verlede jaar grootliks die geval. Die Maties, Pukke, UJ en Wits en ook die Ikeys (met ʼn enkele punt) het batige punteverskille gehad.

Tukkies, wat derde laaste was en in 2018 gesukkel het, het wel 49 punte meer aangeteken as afgestaan, maar dit is grootliks die gevolg van ʼn oorwinning van 82-21 teen die Madibaz in verlede jaar se laaste ronde.

Daar is darem nog drie van die nege spanne wat (meestal) teen mekaar wen of amper wen, maar eintlik is dit tans ʼn reeks wat op twee vlakke gespeel behoort te word.

As die betaling van spelers en die toekenning van beurse beheer moet word, kan ʼn mens net sê: hoe gouer, hoe beter.

 

Inkorting van beroepspelers: waarheen nou?

Hoeveel goeie spelers sal vir rugby verlore wees ná die instelling van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se nuwe kontrakteringsmodel waarvolgens die franchise’e nie meer as sowat 80 spelers sal mag kontrakteer nie?

Daar word boonop beoog dat elke franchise se spelersbegroting nie meer as R60 miljoen mag beloop nie. Dié bostaande syfers sluit die o. 21’s in.

Daar sal by van die franchise’e glo selfs meer as 100 spelers gesny word.

Met die veel kleiner hoeveelheid spelers wat oorbly, is die franchise’e teensinnig om met minder spelers met twee spanne in die Superrugby-reeks en in die SuperSport-Uitdaagreeks te moet speel.

Dit lyk of laasgenoemde vanaf aanstaande jaar afgeskaf sal word.

SA Rugby se o. 19-kampioenskap is reeds na ʼn toernooiformaat verander en spelers sal uit die onderskeie klubstrukture vir die provinsiale span gekies word.

Van die unies se beroepsbeen het reeds hul gekontrakteerde jong spelers laat loop, van die ander sal dit binnekort doen.

Van hulle speel wel klubrugby, ander oefen bloot in gimnasiums om sterk genoeg te word om reeds aanstaande jaar in die o. 21-reeks te kan speel.

Ook dít sal hulle nie veel baat nie. Slegs die heel bestes wat ʼn kans staan om Superrugby te speel, sal vorentoe gekontrakteer word.

Belangrike vrae

Hoe sal skoolverlaters voortaan ná skool in die wedloop om hoër louere kan bly? En hoe sal die ouer manne wat in die SuperSport-Uitdaagreeks hul merk vir bevordering na die Superrugbyreeks moet maak, dit nou kan doen?

Elke franchise sal die probleme op sy eie moet oplos. Word dit reg gedoen, kan dit sy klubstelsel versterk.

♦ Wat egter seker is, is dat nie veel van die spelers wat gesny word, klubrugby sal speel nie. Dit is nie meer die gebruik soos in die amateurdae nie.

Oorsese kontrakte sal ook vir weinig van hierdie spelers ʼn oplossing of heenkome bied. Hulle het immers nog nie hul merk in Suid-Afrika gemaak nie, is onbekend by oorsese klubs en selfs by plaaslike agente wat namens hulle moet onderhandel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

LOL ·

Beurse vir sport is ‘n onding. Akademiese resultate moet beurse dryf.

Akkers ·

@LOL, dis hoe beurse werk pél. As jy nie akademies perform nie, mag en kan jy nie die sport speel nie, en as jy so aanhou jou beurs vir sport verloor.

LOL ·

@Akkers- jy is korrek dat dit die beleid is maar word dit toegepas? My probleem is dat die beurs-spelers die beurse van kwalifiserende akademiese studente ontneem in die naam van sport. En ek wil ook nog sien waar ‘n beurs-speler, wat die afriger wil behou, sy beurs gaan verloor oor akademiese redes. Sedert die 70’s 80’s tot nou weet ek van beurs-spelers wat nooit in ‘n eksamenlokaal was maar nog steeds gegradueer het??

Nico K ·

Ek glo daar sal baie van die spelers oorsee gaan speel. Ek weet van baie spelers wat oor is sonder dat hulle ooit provinsiaal gespeel het. Maar daar is niks wat mens daaraan kan doen nie. Daar is net soveel geld in SA. Gelukkig is die reel afgeskaf dat oorsese spelers nie vir die Springbokke mag speel nie. Solanks ons keurders net genoeg na die manne oorsee kyk. Dit is hoe dit werk in sokker en en ek kan nie sien hoekom rugby anders moet wees nie.

cb ·

As jy kyk na die top 4 spanne, dan is dit krag teen krag. Die ouens wat onder eindig leer ook tog baie by die beter spanne. Kyk, maar na Wits….daai ouens ward al hoe beter en het baie geleer in die tyd wat hulle deelneem en deur die Varsity shield se range gekom het.

Karl ·

Presies @cb, swakker spanne moet teen top spanne kompeteer. As jy op die redenasie wil werk, moet world cups ook net die top 6 insluit, so as die bokke 7de is, tough, te swak, en dan is daar ook iets soos upsets in die sport wereld, kyk na die Sunwolves wat die Chiefs in NZ geklop het, maar SA (“sterker”) spanne kry dit nie reg nie.

Lourens Pieterse ·

Ek kan regtig nie glo, SARU is so simpel nie, ons rugby gaan net meer en meer agteruitgaan, jou senior spanne se krag lê juis by jou junior spanne wat ontwikkel moet word, op universityts vlak of provinsiaal. Dis omdat hulle nie weet hoe om finansies te bestuur nie dat hullemet sulke simpel planne vorendag kom nie. Hulle is erger as eskom. Resultate word verkry deur investering, nie disinvestering nie, vra enige ekonoom. Sport is ‘n ekonomie. Kyk gerus watter bedrae geld in Amerkaanse universiteite aan sport bestee word. Dis hoe jy ontwikkel. Ons moet eerder kyk wie in beheer van rugby is en dan kan jy duidelik sie hulle het GEEN visie vir die sport nie.

Avokado ·

Die soustrein is besig om die stasie te verlaat. Die manne sal maar soos die res van ons moet gaan werk en sodoende ‘n lewe maak.

Willie ·

Hierdie spelers dra niks by tot ‘n ekonomie van die land nie. In hulle beste jare leer hulle heeldag om met ‘n rugbybal te speel. Rugby is ‘n sport, maar lewer niks tot water, huisvesting en kragvoorsiening vir die inwoners van ‘n land nie. Dertig jaar gelede het ons beter spelers gehad uit ‘n kleiner poel.

Henry ·

Willie
Loshande die skerpste en nuttigste waarheidskommentaar wat oor hierdie ou sakie gelewer kan word!!!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.