Proteas pak Pakistan in Port Elizabeth

Heinrich Klaassen sal in Quinton de Kock se plek as paaltjiewagter diens doen. (Foto: GB Jordaan)

30 Mei 2019 – die datum wanneer die krieketwêreldbeker in alle erns vir Faf du Plessis en sy troepe begin. Want op dié dag sal die Proteas teen Engeland – tans die mees opwindende eendagkrieketspan in die internasionale arena – te staan kom.

Wat nou teen Pakistan en Sri Lanka gebeur, sal bloot as kleedrepetisie vir die wêreldbeker  dien. Om eerlik te wees: Suid-Afrika het al male sonder tal vir dié twee lande kafgedraf, maar het hulle al ooit die IKR-trofee omhoog gehou?

Nee.

Daarom sal Otis Gibson die komende kitswedstryde so goed as moontlik wil benut om sy beste elftal vir die wêreldbeker te gereed te kry.

Toegegee, toestande in Suid-Afrika verskil hemelsbreed van die wat die Proteas Meimaand in Engeland kan verwag, maar momentum is net so goed as skaafwerk voor ’n wêreldbeker. Jy moet in elk geval alles wen om die trofee te lig, jy kan netsowel voor die toernooi daarmee begin.

Met Dale Steyn en Quinton de Kock wat vir die eerste twee wedstryde gerus word, het die keurders op Duanne Olivier en Aiden Markram besluit om hul skoene vol te staan.

Duanne Olivier in aksie. Foto: Twitter/ANA

Olivier het vir Pakistan weggeblaas in die afgelope toetsreeks, maar met die opslagbal wat in witbalkrieket effens ingeperk word, kan sy effektiwiteit dalk gekniehalter word. Tog kan niemand sy spelpeil bevraagteken nie – 24 paaltjies in drie toetse sal enige Pakistanse ondersteuner laat nagmerries kry.

Tradisioneel is Port Elizabeth se blad effens stadiger en Gibson kan waag om twee draaiers in Imran Tahir en Tabraiz Shamsi in te span. Dan behoort Rassie van der Dussen ook speelkans te kry.

Die Johannesburgse kolwer is al vir ’n geruime tyd witwarm op die plaaslike kriekettoneel en was die voorste lopievraat in die pasvoltooide Mzansi Superliga.

Pakistan kan egter ’n perd van ’n ander kleur in die eendagreeks wees. Hulle is soms so gevaarlike en onvoorspelbaar soos ’n tiener wat ’n luggeweer vir Kersfees gekry het.

Die aksie begin môre om 13:00 en word regstreeks op SABC3 en SuperSport 2 uitgesaai.

Proteas: Faf du Plessis, Hashim Amla, Aiden Markram, Reeza Hendricks, Imran Tahir, Heinrich Klaasen, David Miller, Dane Paterson, Andile Phehlukwayo, Dwaine Pretorius, Kagiso Rabada, Tabraiz Shamsi, Duanne Olivier, Rassie van der Dussen.

Hoe die moontlike span vir die eerste wedstryd kan lyk: Hashim  Amla, Reeza Hendricks, Faf du Plessis,  Aiden Markram/Rassie van der Dussen, David Miller, Heinrich Klaasen, Andile Phehlukwayo, Kagiso Rabada, Duanne Olivier, Tabraiz Shamsi, Imran Tahir

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Chris gayle ·

1ste plek kies n opregte Kaptein… Faf wil tv kyk en is mmmm . Hy kani eers opreg ordentlik kominekeer met n onderhoud. ALS is mmmmmm ……mmmmmm En kyk na onder….. Swak kaptein. Shame hy kan ook net seer kry of aansit as sy span wen.. Dan vat hy verlof. Swak ste Kaptein ooit. mmm we stil learning …mmmm Hoe de Do. .der leer jy nog maar jys 2de op Wereld se beste… FAF go learn what is capains job you are incompetent …

Frans C ·

En as ek mag vra wat is jou ‘claim to fame’ anders as die gebruikmaking van ‘n bekende spelers se naam as ‘n skuilnaam?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.