Afrigter glo Blitsbokke kan toernooie wen

Die Blitsbok-bestuur meen die span is nog goed genoeg om toernooie te wen. (Foto: X/Blitsbokke)

Ondanks ʼn paar teleurstellende vertonings in Kaapstad, Perth en Vancouver, meen Sandile Ngcobo dat die Blitsbokke steeds suksesvol op die internasionale sewesverhoog kan wees.

Die Suid-Afrikaners speel hierdie naweek in die vyfde toernooi van die jongste HSBC-sewesreeks in Los Angeles en hulle is saam met Argentinië, Ierland en Spanje in ʼn baie taai groep ingedeel.

“Ons fokus daarop om as groepwenners uit die stryd te tree. Ek glo eerlikwaar dat ons goed genoeg is om toernooie te wen,” het die Blitsbok-afrigter gesê.

Benewens ʼn paar beseerde spelers by die huis meen hy ook dat hy Suid-Afrika se voorste sewesspelers tot sy beskikking het.

“Ons moet net skerp wees in al ses wedstryde en die verlangde uitslae sal die span se beloning wees.”

Volgens Ngcobo is daar ook nie meer iets soos ʼn maklike wedstryd by ʼn blitstoernooi nie.

“As ʼn mens na die spelers se ingesteldheid kyk, sal hulle moet verstaan dat elke liewe kragmeting ʼn mededingende affêre kan wees. Jy moet met dieselfde ingesteldheid ʼn wedstryd teen Spanje benader as wanneer jy teen Nieu-Seeland, Argentinië of Ierland speel.”

Hy het weer Suid-Afrika se kragmeting teen Australië in Vancouver uitgelig om te beklemtoon wat die span kan bereik wanneer alles volgens plan verloop.

“Ons weet waartoe ons in staat is op die rugbyveld, maar ons is terselfdertyd ook deeglik bewus van wat gebeur wanneer ons onbestendige spel opdis.”

Blitsbok-groep vir Los Angeles: Selvyn Davids (kaptein), Ryan Oosthuizen, Impi Visser, Zain Davids, Shaun Williams, Shilton van Wyk, Darren Adonis, Rosko Specman, David Brits, Justin Geduld, Tristan Leyds, James Murphy en Katlego Letebele.

Bepalings:

Saterdag:

05:38: Suid-Afrika teen Ierland

20:36: Suid-Afrika teen Argentinië

Sondag:

00:54: Suid-Afrika teen Spanje.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Fran ·

GROOT fout in die sewes kamp! Regstellingsafrigter dalk die probleem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.