All Blacks, Jordan straf Argentyne

Will Jordan het ’n driekuns van drieë teen Argentinië behaal. (Foto: Franck Fife/AFP)

’n Vlieënde Will Jordan se driekuns van drieë was die kersie op die koek van die All Blacks se spoggerige halfeindstryd-vertoning teen Argentinië op die Stade de France.

Toe die eindfluitjie ná meer as 80 minute se spel in Parys blaas, was die telling 44 – 6 in die Nieu-Seelanders se guns en hulle is deur na hul vyfde Wêreldbeker-eindstryd.

Hoewel die Suid-Amerikaners ʼn goeie aanloop tot die wedstryd geniet het – Emiliano Boffelli se stelskopvaardighede het immers vir die eerste punte van die kragmeting gesorg – het die Kiwi’s net hopeloos te veel skietgoed gehad.

Sam Cane en kie het munt uit die Argentyne se swak dissipline geslaan en hulle kon gereeld hul geleenthede met punte afrond.

Jordan het in die 11de, 62ste en 73ste minuut van die wedstryd sy drieë gedruk en hy was deurgaans ʼn bedreiging vir sy teenstanders.

Die 25-jarige Christchurch-boorling het tussendeur vir Damian Penaud verbygesteek en hy is nou die voorste driedrukker van die toernooi met sy agt drieë.

Voeg daarby die spierkrag van Shannon Frizell, die visie van Jordie Barrett en die skeppende spel van Aaron Smith en die All Blacks spog met sewe halfeindstryd-drieë.

Nie sleg vir ʼn span wat sy openingswedstryd teen Frankryk verloor het nie.

Die enigste klad op ʼn andersins meesterlike All Blacks-vertoning is Scott Barrett se geel kaart vir ongeoorloofde spel in die 67ste minuut.

Maar selfs in sy afwesigheid het die Kiwi’s nie hul voet van die versnelpedaal gehaal nie en hulle het later besluit om die wedstryd eerder met 14 spelers te voltooi as om vir Barrett terug op die veld te stuur.

Suid-Afrika en Engeland speel môre in die tweede halfeindstryd van die naweek op die einste Stade de France.

  • Puntemakers:

Nieu-Seeland: Drieë: Will Jordan (3), Shannon Frizell (2), Jordie Barrett en Aaron Smith. Doelskoppe: Richie Mo’unga (3). Strafskop: Mo’unga.

Argentinië: Strafskoppe: Emiliano Boffelli (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.