All Blacks nog nie hul ‘aura’ kwyt

Aaron Smith lei die All Blacks se haka in Frankryk. (Foto: Twitter/FranceRugby)

ʼn Mens het nie die All Blacks-spanne van Richie McCaw of Kieran Read sonder handskoene aangepak nie.

Hulle was vinnig, fiks, talentvol en genadeloos op ʼn rugbyveld. Maar ná Ian Foster se span twee wedstryde op ʼn streep – teen die Springbokke en die Hane – verloor het, meen talle rugbyliefhebbers dat dié Kiwi-groep met voete van klei rondloop.

Tog glo Justin Marshall dat jy nooit die All Blacks kan afskryf nie.

“Nieu-Seeland is goed genoeg om die Webb Ellis-trofee omhoog te hou,” het die oudskrumskakel aan The Platform gesê.

“Die span is nog nie hul wen-aura kwyt nie; ek glo in die spelers se vaardighede en die All Blacks-handelsmerk. Ons kan steeds belangrike wedstryde én Wêreldbekers wen.”

Maar die twee nederlae het seergemaak.

Suid-Afrika het eerstens ʼn rekordoorwinning (35–7) teen sy rugbyaartsvyand op Twickenham behaal, terwyl Frankryk ʼn pak slae in Parys uitgedeel het. Die nederlaag van 27–13 op die Stade de France was die eerste keer ooit dat die Nieu-Seelanders in die groepfase van ʼn Wêreldbeker-toernooi verloor het.

Conrad Breytenbach meen dat die blaam vir die Frankryk-nederlaag voor ʼn paar deure gelê kan word; onder meer die Bokke se bobaas-vertoning in Londen.

“Die All Blacks het met die openingswedstryd dalk nog aan ʼn bietjie Twickenham-bomskok gely, terwyl daar ook baie emosies betrokke is wanneer jy in die eerste wedstryd van die toernooi teen ʼn sterk span van die gasheerland speel. Die Franse kan jou lelik op ʼn rugbyveld ontwrig,” het die voormalige Blou Bul-skrumskakel gesê.

Hy het bygevoeg dat die span ook nog kan sukkel om by die Europese rugbytoestande aan te pas.

“Die feit dat hulle nie in Europese toernooie – soos Suid-Afrika – speel nie, kan ook ʼn invloed hê. Balbesit by losskrums is daar baie belangrik, terwyl hulle nog wil rondhardloop en die bal links en regs rondgooi; iets wat in dié stadium nog nie 100% vir hulle moontlik is nie.”

Net soos Marshall glo hy ook dat die All Blacks vinnig weer op die wenpad sal kom.

Die All Blacks se Ian Foster. (Foto: Marty Melville/AFP)

Dan word daar gereeld in die media geskryf dat Foster ʼn swak afrigter is, dat Sam Cane nie ʼn besielende kaptein is nie, die All Blacks nie by die Bokke se fisieke spel kan kers vashou nie, hulle in die lynstane erg kwesbaar sonder Brodie Retallick is en dat hul voorrye nie sterk genoeg is nie. Hul dissipline skiet moontlik in belangrike wedstryde tekort en hulle plof in wanneer hulle onder druk geplaas word.

Olivier Magne, ʼn voormalige Franse rugbyspeler, het gesê dat Foster en Sam Cane aan die stuur van die swakste All Blacks-groep nóg is.

Marshall stem nie noodwendig met sy ontleding saam nie.

“Nieu-Seeland straal steeds rugbysukses uit. Hierdie span beskik nog oor die vaardighede wat van die All Blacks sulke gedugte teenstanders gemaak het.”

Tog erken hy dat dinge nie heeltemal klopdisselboom is nie.

“Rugbylegendes soos George Gregan, Jean de Villiers en John Smit wou by my weet wat met die All Blacks skort. As hulle sulke vrae vra, dan moet alles seker nie heeltemal reg wees nie. Ek glo egter in die span en weet waartoe hulle in staat is, selfs al is die res van die wêreld meer skepties.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

piet ·

Die AB’s het nog sleutelspelers wat beseer is en moet terugkom. Daai ouens gaan ‘n groot verskil maak.

Niklaas ·

Daar is nooit ‘n swak All Black span nie. Ons word dalks ‘n rat voor die oë gedraai en AB span gaan wil wen wanneer dit werklik saak maak. Tyd sal leer , sommer met halfeinstryd alreeds

kragaap ·

Watter “aura”? Wat daar was is deur die bokke stukkend geduik en toe deur die franse van die veld af gespeel. Al wat oor is is die lagwekkende haka wat meer lyk soos gogga maak vir baba bang

KB ·

Klink vir my die All Blacks se nuwe liedjie is “Blame it on the Bosa Nova”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.