Barrett skotvry ná rooi kaart

Skeisdregter Matthew Carley stuur vir Scott Barrett af met ’n geel kaart. (Foto: Adrian Dennis/AFP)

Ian Foster sal vir Scott Barrett kan kies wanneer die All Blacks hul openingswedstryd van die Wêreldbeker-toernooi teen Frankryk in Saint-Denis speel.

Die Nieu-Seelandse slot het Vrydag twee geel kaarte (wat dan terstond ʼn rooie word) in die opwarmingskragmeting teen Suid-Afrika op Twickenham gekry.

Skeidsregter Matthew Carley het aanvanklik ʼn geel kaart in Barrett se rigting geswaai nadat Nieu-Seeland ʼn spul strafskoppe afgestaan het – hy is toe as’t ware vir die span se oortredings gestraf.

Die tweede geel kaart was omdat hy vir Malcolm Marx op ʼn roekelose en gevaarlike wyse teen die kop in ʼn losgemaal getref het.

Die 29-jarige speler het Maandag voor ʼn tugkomitee verskyn en sir James Dingemans (voorsitter) het saam met Olly Kohn (oudspeler) en Valeriu Toma (voormalige skeidsregter) beslis dat sy rooi kaart voldoende straf is.

“Die eerste geel kaart is uitgereik nadat die span deur die skeidsregter gewaarsku is. Daar was dus nie vuilspel betrokke nie, maar dit was eerder ʼn tegniese oortreding wat tot die kaart gelei het,” het Wêreldrugby in sy amptelike verklaring geskryf.

Die tugkomitee het ook beslis dat daar versagtende omstandighede in die Marx-voorval was – Barrett het glo eers kontak met die Suid-Afrikaanse haker se arm gemaak voordat dit na die nekgebied opgeskuif het.

“Die speler het weliswaar ná die ander spelers sy teenwoordigheid in die losgemaal laat geld, maar ons het bevind dat hy nie laat tot die aksie toegetree het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Fran ·

Die All Blacks sal altyd met moord wegkom. Hulle word al vir jare voorgetrek deur wêreld rugby.

Christo ·

Hy het reeds n geelkaart daarvoor gekry. Saam met die span se geelkaart, was ditn rooi. Wat meer wil jy he?????

Frank ·

Nee, VERGEET van die eerste geel kaart. Hierdie is reguit rooi kaart, verban vir ‘n hele paar wedstryde! As hy bv vir Arendse of Moodie so geloop het, en een van hulle het seergekry????? Wat sou dan gebeur het? Sy INTENSIE moet gestraf word, hy was gefrustreerd oor die All Blacks se onvermoe om voor hond haaraf te maak. Was dit nou ‘n Springbok???
Die All Blacks is en was nog altyd kroonwild in Wereld Rugby se oe.

kragaap ·

Die tweede geel kaart is gedurende die wedstryd verwys as ‘n rooi kaart.

Les ·

En dit boonop van die bal af en langs die losskrum ! Baie gelukkig om met slegs n geel kaart weg te kom.

Jack Russ1 ·

Was ‘n skouerloop, maar dit was teen die lyf, nie die kop nie, dus die geelkaart en nie rooi nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.