Blitsbokke baie beter, maar harde werk lê voor

Afrigter Philip Snyman is tevrede met die Blitsbokke se vertoning op die eerste dag van die Hongkong-sewestoernooi. (Foto: X/Blitsbokke)

Philip Snyman is tevrede met die Blitsbokke se vertoning op die openingsdag van die Hongkong-sewestoernooi.

Oorwinnings teen Ierland en Spanje het so te sê die span se plek in die kwarteindstryd verseker, maar ʼn taai toets wag nog teen Samoa in die laaste groepwedstryd.

Volgens die tydelike Blitsbok-afrigter het sy span gewys dat hy ʼn gevaar op die aanval is en die volgende mikpunt is om eerste in die groep te eindig.

“Ons het goed teen Ierland begin, maar later konsentrasie verloor. Dan het ons aanvanklik teen Spanje gesukkel om balbesit te bekom, maar dinge het later mooi in plek geval. Ja, daar was nog foute, maar ons sal dit regstel en môre ʼn sterker vertoning op die veld lewer,” het Snyman gesê.

Justin Geduld se rooi kaart in die Ierland-kragmeting beteken dat hy vir drie wedstryde geskors is, maar die Blitsbokke het teen Spanje gewys daar is nog oorgenoeg opportunistiese spelers in hul geledere.

Suid-Afrika se vrouespan het egter die wind van voor gekry en hulle het teen Ierland (20 – 7) en Fidji (24 – 7) verloor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.