Blitsbokke tref weer die kol, dié keer in Londen

(Foto: Springbok Sevens via Twitter)

Dis darem baie jammer dat die Blitsbokke so laat vlamgevat het in Wêreldrugby se jongste sewesreeks.

Dit het die Blitsbokke Saterdag in Londen weer bewys toe hulle saam met Fidji en Amerika die eerste dag as die enigste drie onoorwonne spanne afgesluit het.

Maar waar die Fidjiane en die Yanks nie altyd oortuig het nie, het die Blitsbokke Japan met 49-0, Kanada met 45-14 en Argentinië met 40-21 geklop om hul groep maklik te wen.

Die Blitsbokke (99) het die beste punteverskil van al die spanne, hulle het die meeste drieë gedruk (altesame 19) en het nie net op een of twee spelbrekers staat gemaak om die bresse te slaan nie.

Neem byvoorbeeld die kragmeting met die fisieke Kanadese, waar Impi Visser, Selvyn Davids, Branco du Preez, JC Pretorius, Siviwe Soyizwapi en Werner Kok gedruk het.

Dit was oudergewoonte ʼn spanpoging, goeie hanteerwerk en die skep van geleenthede vir hul spanmaats. En dan het hulle fiksheid die ander spanne in die skadu gestel en hul verdediging was ook uit die boonste rakke.

Kan die Blitsbokke die toernooi wen?

Ja, want hulle behoort die Australiërs in Sondag se eerste kwarteindstryd te troef en dan kan hul pad vorentoe oop wees.

Dit begin mos al meer en meer lyk of die spook van Fidji afgeskud is en of hulle die lesse van die verlede om in die uitspeelrondes vas te val, op die rak geplaas het.

Die Blitsbokke kan nie meer die reeks wen nie; dit is een van Fidji of Amerika beskore, maar ʼn plek by die Olimpiese Spele in Tokio is reeds in die sakkie en die Blitsbokke kan Nieu-Seeland nog uit die derde plek op die puntelys stamp.

 Sondag se kwarteindstryde: Blitsbokke teen Australië (11,58) gevolg deur Nieu-Seeland teen Frankryk, die VSA teen Kanada en Fidji teen Ierland.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Boktrots ·

Daar is spanne in die land wat ongelukkig altyd so half in die skaduwee speel. Self ervaar hoe my eie vriend en sy familie, groot name in rugby, die Blitsbokke hanteer soos ‘n laatlam wat in die pad is as die groot kinders speel. Maar wie wen hoespoedwedstryde die een na die ander? Kyk maar ook hoe word die Banyana misken terwyl die grotes normaalweg verloor. Hierdie Blitsbokke begeester ‘n mens, selfs as jy nie ‘n tipiese rugbygeesdriftige is nie.

kolla ·

Ek is verbaas dat Engeland in hul tuistoernooi nie die kwarteinstryd om die Beker gehaal het nie. So die Blitsbokke kwalifiseer dan regstreeks vir die Olimpiese Spele.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.