Blitse baljaar in Tafelberg se skadu

Justin Geduld op pad doellyn toe. (Foto: Hansie Linde)

Tafelberg het Vrydag nog agter ʼn wolkgordyn geskuil, maar toe die Blitsbokke vandag hul eerste wedstryd van die Kaapstad-sewestoernooi speel, het sonskynweer die span begroet.

Die tuisspan het dinge beslis te warm vir Groot-Brittanje op die speelveld gemaak en hulle het die kragmeting op ʼn drafstap met 19 – 5 beklink.

Quewin Nortjé het die driedrukbal aan die rol vir die Suid-Afrikaners gesit toe hy in die hoek oorgeduik het vir die eerste punte van die Groep A-wedstryd.

Die Blitsbokke het hul Kaapstad-sewesveldtog op ’n wennoot begin. (Foto: Hansie Linde)

Goeie sokkervaardighede – die bal is letterlik ʼn paar keer in die rigting van die Blitsbok-doellyn geskop – het vir Groot-Brittanje se eerste drie gesorg, maar daarna was dit eenrigtingverkeer in die wedstryd.

Die Suid-Afrikaners het ʼn kragvertoning gelewer wanneer daar om die bal op die grond baklei is, terwyl hul sterk verdedigingswerk ook die stomme Britte op die agtervoet geplaas het.

Dan het Justin Geduld sy aanvallende vaardighede uitgestal toe hy soos ʼn warm mes deur die besoekers se bottervinger-verdediging gesny het, terwyl Nortjé ʼn lekker hardloopsessie met sy tweede drie afgerond het.

Suid-Afrika het laas in 2015 met die seweslouere in die Moederstad weggestap en daar moet die naweek nog eers heelwat water in die see loop voordat hulle weer met die silwerware kan spog.

Maar met dié vertoning het hulle beslis ʼn groot tree in die regte rigting gegee.

Die span se volgende wedstryd is om 14:12 teen die VSA en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

  • Puntemakers:

Suid-Afrika: Drieë: Quewin Nortjé (2) en Justin Geduld. Doelskoppe: Geduld en Ronald Brown.

Groot-Brittanje: Drie: Harry Glover.

  • Blitsbok-groep: Ryan Oosthuizen, Impi Visser, Zain Davids, Tiaan Pretorius, Ronald Brown, Selvyn Davids, Dewald Human, Shilton van Wyk, Rosko Specman, Masande Mtshali, Justin Geduld, Quewin Nortjé en Kat Letebele.

Quewin Nortjé het twee drieë in die wedstryd gedruk. (Foto: Hansie Linde)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.