Bok-slot meen Iere is gunstelinge teen Skotte

Die Springbokke se Jean Kleyn. (Foto: Henry Nicholls/AFP)

As die Bok-slot Jean Kleyn nou by ʼn kasino iewers in Frankryk gestaan het, sou hy waarskynlik geld uitgehaal het om op Ierland te wed; selfs al hoop hy heimlik dat Skotland met die wêreld se voorste rugbyspan in Parys sal afreken.

Die Iere speel Saterdag teen die Skotte op die Stade de France en die uitslag van dié wedstryd speel ʼn deurslaggewende rol om te bepaal watter twee spanne uit Groep B vir die uitkloprondes kwalifiseer.

“Ierland gaan waarskynlik die wedstryd wen, maar net omdat hulle ons vroeër geklop het, hoop ek dat Skotland met die louere wegstap,” het Kleyn geskerts.

Die 30-jarige slot het in 2019 sy internasionale buiging vir Ierland gemaak, maar Rassie Erasmus en kie het hom na Suid-Afrika teruggelok en hy rank deesdae in die Springbokke se lynstane.

“As ons realisties na Saterdag se wedstryd kyk, gaan Ierland wen. Hulle speel tans baie goeie rugby.”

Tog glo hy dat daar nog altyd ʼn tikkie vyandigheid tussen die Iere en die Skotte op die rugbyveld was.

“Kyk byvoorbeeld na ʼn wedstryd tussen Munster en Glasgow – daar is altyd ʼn bietjie meer aggressie betrokke. Dit is ʼn strydlustige storie en dit is selfs meer in die kollig wanneer Ierland teen Skotland speel.”

“Saterdag beloof om ʼn ernstige toets te wees.”

Die Springbokke het vandeesweek drie oefensessies en volgens Kleyn gebruik die span die geleentheid om die hersetknoppie te druk.

“Dit is maar hoe die dobbelsteentjie vir ons geval het en ons kan nie wag om te sien wat Saterdag gebeur nie. Ons het onsself in ʼn goeie posisie geplaas om vir die uitkloprondes te kwalifiseer en daar sal iets groots moet gebeur om ʼn stokkie daarvoor te steek.”

Hy vertel dat die Bokke skerp bly vir ʼn moontlike kwarteindstryd-wedstryd.

“Ons is tans eerste in die groep, maar ons kan tweede of selfs derde eindig. Al wat ons kan doen, is om na die beste van ons vermoë voor te berei.”

Groep B-punteleer:

  1. Suid-Afrika: 15 punte ná vier wedstryde met ’n punteverskil van +117
  2. Ierland: 14 punte ná drie wedstryde met ’n punteverskil van +122
  3. Skotland: 10 punte ná drie wedstryde met ’n punteverskil van +97
  4. Tonga: geen punte nie ná drie wedstryde met ’n punteverskil van -102
  5. Roemenië: geen punte nie ná drie wedstryde met ’n punteverskil van -234.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.