Bokke het kans om iets spesiaals te doen – Rassie

Rassie Erasmus op die veld saam met die Springbokke. (Foto: Clement Mahoudeau/AFP)

Volgens Rassie Erasmus bied Sondag se Wêreldbeker-kwarteindstryd teen Frankryk ʼn geleentheid vir die Springbokke om iets spesiaals te doen.

“As ʼn mens kyk na wat die Franse alles vermag het en hoe hulle die afgelope paar jaar gespeel het, beloof dit om een van die topwedstryde te wees. En ons sal moet probeer om dinge doeltreffend te bestuur,” het SA Rugby se direkteur van rugby gesê.

ʼn Topspan word nie onthou omdat hy op ʼn drafstap met die kanonvoer-vyftientalle afgereken het nie; sy nalatenskapboek kry veel eerder ʼn paar hoofstukke by wanneer hy sy man teen gedugte teenstanders staan.

“Wanneer jy iets groots wil vermag, gaan dit nooit in perfekte situasies wees nie.”

Erasmus het erken dat die Bokke alles in die stryd sal werp om die Franse op hul tuisveld stil te speel.

“Om te wen is alles en daar is verskillende maniere om te wen. Verdediging, skrums, lynstane en rolmaalbewegings sal altyd belangrik wees en as ʼn mens kyk na waar ons in die toernooi is, gaan dinge net taaier word soos wat die druk opbou.”

Die Wêreldbeker-wenafrigter het vroeër nie die moontlikheid uitgesluit dat die Springbok-span weer met sewe voorspelers op sy plaasvervangersbank kan spog nie.

“Ons hou ons opsies oop om te sien of ons ʼn 7/1-, 6/2- of 5/3-plaasvervangersverdeling vir die wedstryd gaan kies. Die afrigtersgroep sal Woensdag bymekaarkom; die Franse wedstrydgroep sal ook ʼn invloed op ons uiteindelike spankeuse hê.”

Die 7/1-verdeling het weliswaar onder kritiek deurgeloop met Matt Williams wat dit onder meer as ʼn immorele taktiek uitgekryt het.

Maar oudergewoonte het Erasmus hom nie veel aan ander se kommentaar gesteur nie.

“Ons volle aandag is nou op ons eie spel en wat ons gaan doen om suksesvol in die Wêreldbekertoernooi te wees. Om eerlik te wees, ons gee nie veel aandag aan wat die ander spanne doen óf hul sienswyses nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Coenraad ·

Julle bedoel seker”….weer met sewe VOORSPELERS op sy plaasvervangersbank….”

JohanR ·

Ek glo AB gaan Ierland pak gee(dit sal my dag maak on Johnny Sexton se gesig te sien), en Bokke gaan Frankryk wen.

George ·

Darm maar goed, as ons wen is dit Rassie se meestersbrein, as ons verloor is dit Nienaber en nie Rasirige Rassie nie

Johan Botha ·

Rassie en kie moet maar weer gaan kyk wat oom Kitch Crhistie gesê het…..jy kies heel eerste ‘n gedugte stelskopper, dan stel jy die span saam….!

Niklaas ·

Na Ierland se wen toer in NZ oor die All Blacks , glo ek dat die AB’s ekstra hard sal veg om nie weer te verloor nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.