Bokke maak gereed vir nog ʼn vurige stryd

Makazole Mapimpi, Bongi Mbonambi en Franco Mostert op die oefenveld in Buenos Aires. (Foto: Twitter/Springbokke)

As Argentinië met so ʼn onheilspellende vertoning in Johannesburg vorendag gekom het, dink net hoe gevaarlik kan hulle op hul tuisveld in Buenos Aires wees.

Volgens Deon Davids staal die Springbokke hulself vir nog ʼn taai tweestryd – die Argentyne sal weer eens weier om handdoek in te gooi.

“Ons meet kragte teen ʼn vurige span wat glo dat hulle in Johannesburg kon gewen het, terwyl hulle nou ook die steun van hul passievolle ondersteuners sal geniet,” het die Springbok-hulpafrigter gesê.

Die Suid-Afrikaners het al vantevore harde bene in Argentinië gekou – dink net aan die nederlae in 2016 [26 – 24] en in 2018 [32 – 19].

“Dit is nooit maklik om hier te speel nie. Tog bied die wedstryd ʼn geleentheid vir die spelers om onder druk hul staal te wys en dit maak ons opgewonde.”

Die Springbokke moes verlede naweek veral in die tweede helfte op Ellispark bontstaan om die Poemas van hul doellyn weg te hou.

“In die geheel was dit ʼn baie mededingende wedstryd en ek haal my hoed vir Argentinië af wat alles in die stryd gewerp het om die toets te wen.”

Davids meen egter dat die Springbokke nie vir ʼn beter Wêreldbeker-voorbereidingswedstryd kon vra nie.

“Net soos teen die All Blacks moes ons vir die volle 80 minute speel. Dit was ʼn uitstekende toets en dit was presies wat die span nodig gehad het met die oog op die Wêreldbeker-toernooi.”

Die Wêreldbeker-voorbereidingswedstryd begin Saterdag om 21:10 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Springbok-span na Argentinië:

Voorspelers: Thomas du Toit, Steven Kitshoff, Vincent Koch, Gerhard Steenekamp, Trevor Nyakane, Bongi Mbonambi, Joseph Dweba, Lood de Jager, Jean Kleyn, Marvin Orie, Jean-Luc du Preez, Evan Roos, Jasper Wiese, Deon Fourie en Franco Mostert.

Agterspelers: Jaden Hendrikse, Herschel Jantjies, Cobus Reinach, Manie Libbok, Lukhanyo Am, André Esterhuizen, Jesse Kriel, Makazole Mapimpi, Canan Moodie, Kurt-Lee Arendse en Damian Willemse.

Wêreldrugby-ranglys:

  1. Ierland: 91,82 punte
  2. Nieu-Seeland: 90,77 punte
  3. Frankryk: 90,47 punte
  4. Suid-Afrika: 88,36 punte
  5. Skotland: 82,77 punte
  6. Engeland: 82,12 punte
  7. Argentinië: 81,47 punte
  8. Australië: 79,87 punte
  9. Wallis: 78,08 punte
  10. Fidji: 76,86 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

piet ·

Die Pumas lek hulle lippe af vir hierdie sukkelende Bok-span in Argentinie..

piet ·

Daar’s net soveel wat jy van die kantlyn af kan doen. Die ouens het inspirasie nodig op die veld van een van ons beste spelers wat lei deur die voortreflike spel wat hy lewer. Dis ‘n inspirasie vir die sukkelaars in die span en ‘n leier waarna hulle kan opsien en respek voor het.

kragaap ·

Daar is leiers in die span waarvoor spanlede meer respek het en na opsien.

Niklaas ·

Ek dink weer dis nogal ‘n sterk Bok span hierdie. Ek is nou wel in die minderheid , maar tog verwag ek ‘n Bok oorwinning.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.