Bokke moet hulle nie op Twickenham-triomf blind staar

Kwagga Smith druk sy drie op Twickenham. (Foto: Ian Kington/AFP)

Die Springbokke het hul vorige kragmeting teen die All Blacks met 35–7 op Twickenham gewen.

Nou, met al twee spanne wat hul plek in die eindstryd van die Wêreldbeker-toernooi bespreek het, waarsku Deon Davids dat die Bokke hulle nie op die Twickenham-triomf moet blind staar nie.

“Al twee spanne het sedertdien waardevolle lesse uit hul vorige kragmetings geleer en Nieu-Seeland speel tans baie beter rugby. As jy heeltyd oor jou skouer na die verlede terugloer, flous jy net jouself,” het die Springbok-hulpafrigter gesê.

Die Kiwi’s het op ’n drafstap met Argentinië in die eerste halfeindstryd van die naweek afgereken, waarna Suid-Afrika met stampe en stote vir Engeland geklop het.

Volgens Davids is dit altyd ’n spesiale geleentheid wanneer die Springbokke en die All Blacks teen mekaar speel; om dan nie eens van ’n Wêreldbeker-eindstryd te praat nie.

“Dit is ’n opwindende week wat vir ons voorlê. Daar is baie geskiedenis tussen die twee spanne, maar dit is nou ’n nuwe week en ’n nuwe wedstryd en ons sal op ons beste moet wees. Dit beloof om ’n baie taai tweestryd te wees.”

Ná twee moeilike wedstryde in aanloop tot die eindstryd – die Bokke het hul uitspeelwedstryde teen Frankryk en Engeland elk met ’n punt gewen – meen Davids dat die Suid-Afrikaners slim met hul voorbereidingswerk moet wees.

“Ons sal die regte balans tussen fisieke en geestelike voorbereiding moet handhaaf sodat die spelers vars en gereed vir Saterdag sal wees.”

Vroeër het hoofafrigter Jacques Nienaber erken dat sy span beter sal moet vertoon as hulle met die eindstrydlouere teen Nieu-Seeland wil wegstap.

Engeland het die Bokke onder druk met hul fisieke spel en slim skopwerk geplaas en die Suid-Afrikaners kon eers in die 70ste minuut behoorlik vasstrapplek in die wedstryd kry.

“Ons sal natuurlik beter teen Nieu-Seeland in die eindstryd moet speel. Maar ’n mens moet die spelers se karakter loof vir die wyse waarop hulle ’n manier gevind het om die wedstryd te wen,” het Nienaber ná die Engeland-halfeindstryd gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

George ·

Skreeu dan maar vir die AB, maar moenie saam juig as ons sou wen nie.

vuurvliegie ·

Die ou Bokkies se geheue is maar kort. Almal het van die 57 -0 rugby les vergeet. Almal wat hulle rugby ken sal onthou wie gewen het.

Niklaas ·

Jy is reg , ongelukkig , dis die harde feite. Ek hoop net die telling teen ons is nie te onvleiend nie . Wat doen ons as Pollard beseer raak in die wedstryd ?

Elma ·

Vliegie, dis 6 jaar later. Die span het nogal heelwat verander né……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.