Bokke se voorbereiding ‘kom mooi bymekaar’

Springbok-afrigter Jacques Nienaber (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Springbok-afrigter Jacques Nienaber meen die span is goed op dreef met hul voorbereidings vir die Rugbykampioenskap.

Die Bokke het Vrydag die tweede week van hul oefenkamp in Pretoria afgesluit. Hulle was die afgelope twee weke hard aan die werk, op en af van die veld af, vir hul openingswedstryd teen Australië op Saterdag 8 Julie op Loftus Versfeld.

Die groep sal Sondag weer in Pretoria bymekaarkom vir die laaste week van die oefenkamp voordat hulle ’n week later die Australiese toetsweek ingaan.

“Dinge kom mooi bymekaar,” het Nienaber gesê. “Die intensiteit van ons oefensessies is goed en dit is aangenaam om te sien hoe ons vorder. Ons het ’n goeie basis gehad om van te bou danksy die kampe vroeër in die seisoen, en ons het geleidelik daarop voortgebou sedert ons bymekaargekom het.

“Ons het ook hierdie week begin fokus op die toetse teen Australië en Nieu-Seeland, want dit is noodsaaklik dat ons goed voorbereid is op ’n goeie Rugbykampioenskap-veldtog voor die Wêreldbeker-opwarmingswedstryde en die toernooi later in die seisoen.”

(Foto: GB Jordaan)

Rassie Erasmus, direkteur van rugby, is intussen verheug oor die bevestiging van Wêreldrugby dat die slot Jean Kleyn in aanmerking kom vir keuring.

“Jean se klaring is goeie nuus vir die span in hierdie belangrike seisoen,” het Erasmus gesê. “Sy internasionale ervaring vergroot ons diepte op slot, terwyl dit terselfdertyd die ervaring in die groep ’n hupstoot gee in ’n jaar waarin elke wedstryd noodsaaklik is in ons voorbereiding vir die Wêreldbekertoernooi.”

Erasmus het ook die Toyota Cheetahs en Airlink Pumas sterkte toegewens vir die Curriebeker-eindstryd, die Boland Kavaliers en Valke vir die Eersteliga-eindstryd, en die Junior Springbokke vir hul o. 20-Wêreldtoernooi-openingswedstryd Saterdag teen Georgië.

“Ons is trots op al vier spanne wat tot die eindronde deurgedring het, en ons is opgewonde om te sien wat hulle Saterdag lewer,” sê Erasmus. “Ons wens hulle en die Junior Springbokke sterkte toe met hul openingswedstryd vir Wêreldrugby se o. 20-kampioenskap in wat ’n opwindende dag vir rugby in Suid-Afrika gaan wees.”

Die Springbokke speel drie toetse – Australië (Saterdag 8 Julie), Nieu-Seeland (Saterdag 15 Julie) en Argentinië (Saterdag 29 Julie) – in die verkorte weergawe van die Rugbykampioenskap.

Die span sal dan drie Wêreldbeker-opwarmwedstryde speel – teen Argentinië (5 Augustus), Wallis (19 Augustus) en Nieu-Seeland (25 Augustus) – voordat hulle na Korsika reis vir ʼn weeklange oefenkamp. Hul eerste Wêreldbekerwedstryd is teen Skotland op Sondag 10 September.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.