Bokke slag Pumas af, maar meer vrae as antwoorde

Die Springbokke in aksie teen die Pumas in Buenos Aires (Foto: Springboks/Twitter)

Daar wag ʼn hele paar lekker tameletjies op die Springbokafrigters Jacques Nienaber en Rassie Erasmus wanneer hulle nabetragting hou oor Saterdag se opwarmtoets teen Argentinië in die Estadio Jose Amalafitani in Buenos Aires.

Die Springbokke het welverdiend met 24-13 gewen nadat hulle 21 punte ná rustyd aangeteken het nadat die Pumas met 10-3 voorgeloop het.

Die ou-ou waarheid dat jy net kort voor rustyd of ná die ruskans punte moet aanteken was weer waar, want twee blitsdrieë deur Canan Moodie en Makazole Mapimpi het die Pumas se vuur geblus.

Van toe af was die Bokke heeltemal in beheer.

Springbok heelagter Damian Willemse in aksie (Foto: Springboks/Twitter)

Hulle het die vaste fasette oorheers, die Argentyne agter die voordeellyn vasgepen, gespring, gemaal gedryf en gerol.

Al wat gepla het, was die groot aantal strafskoppe wat die Springbokke afgestaan het. Maar moenie uit die oog verloor nie dat die Pumas meesters daarvan is om onkant te speel, aan spelers se truie te trek, sonder die bal te stamp en oor die bal van die verkeerde kant af te val.

Dit was ʼn baie belangrike oorwinning weg van die huis af, want die Bokke het verlede Saterdag op Ellispark in die tweede helfte van die Rugbykampioenskaptoets teen die Pumas uitgesak.

Saterdag was die skoen aan die ander voet, want die Pumas se stoom het opgeraak.

Nienaber en Erasmus wys Dinsdag hul Wêreldbekergroep aan en waar daar voor die toets ʼn duidelike prentjie was, het ʼn hele paar Bokke die kaarte Saterdag behoorlik deurmekaar geskommel.

Damian Willemse het sy plek as tweede heelagter vasgemessel en die kwiksilwer Moodie het alles gedoen wat van ʼn toetsvleuel verwag word. Hy was byna onstuitbaar op pad doellyn toe en geoordeel na sy vertoning, behoort hy die Wêreldbekergroep te haal. Maar ten koste van Mapimpi?

Dan het die senter André Esterhuizen met ʼn baie stewige vertoning in die middelveld sy aanspraak versterk om die regmerkie bo of saam met Damian de Allende te kry.

Esterhuizen het die Pumas voos geduik, het elke keer oor die voordeellyn gekom en sy balverspreiding was een van sy groot bates.

Herschel Jantjies het as plaasvervanger-skrumskakel ook sy kanse aangegryp en een van sy beste vertonings gelewer. Ja, die slag was toe al gelewer toe hy opgestuur is, maar hy het ʼn groot rol daarin gespeel dat Manie Libbok kalm gebly het en sy selfvertroue die hoogte laat inskiet het.

Tussen die voorspelers was Jean Kleyn ʼn ware werksesel. Hy was baie prominent in die lynstane, het goed gedryf en sy duikslae was uitmuntend. Maar gaan hy die paal bo byvoorbeeld Lood de Jager haal?

Trevor Nyakane (vaskopstut) het ook heeltemal van sy beserings herstel terwyl die plaasvervanger-stut Gerhard Steenekamp ook baie goed vertoon het.

Puntemakers: Suid-Afrika 24 (3): Drieë: Canaan Moodie, Makazole Mapimpi. Doelskop: Manie Libbok. Strafdoele: Libbok (4)

Argentinië 13 (10): Drie: Gonzalo Bertranou. Doelskop: Emiliano Boffelli. Strafdoel: Boffelli.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

wildtuin ·

Die Booke het hulle kant gebring in die 2de helfte, hulle kan tevrede voel. Die groot teleurstelling is egter die truie waarin hulle speel. Hierdeur is hulle Springbok identiteit ontneem. Die groen en goud wat mens se hart se punt is, wat emosie in mens se hart bring sommer net so weggedoen. .Dit vir ‘n trui wat vreemd is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.