Bristol laat SA bloedrooi bloos

Foto: Twitter.

Dankie tog die SA A-span se Europese avontuur is iets van die verlede. Want as dinge só aangehou het, sou hulle waarskynlik ook teen Zebre klippe gekou het.

Die Suid-Afrikaners het gisteraand op die Ashton Gate-stadion met nog ʼn swak vertoning vorendag gekom toe die Bristol Bears hulle met 26 – 18 ore aangesit het. Dit is Mzwandile Stick-hulle se tweede agtereenvolgende nederlaag nadat hulle verlede week ook teen Munster die onderspit gedelf het.

ʼn Hartseer tikkie statistiek – nie die SA A-span óf die Springbokke kon al vanjaar daarin slaag om met hul Europese teenstanders af te reken nie.

“Ek is teleurgesteld,” het Stick ná afloop van die fiasko teen Bristol gesê.

Volgens die afrigter beskik sy span oor baie goeie spelers, maar hulle het hoegenaamd nie tot hul volle potensiaal gespeel nie.

“Daar was kere waar die ouens moontlik die kragmeting as ʼn proewe-wedstryd benader het en elkeen wou sy eie ding doen. Die oomblik toe ons saam as ʼn span begin speel het, het goed in plek geval.”

Hy het die stut Ntuthuko Mchunu se drie uitgesonder.

“Toe ons meer direkte rugby met ons voorspelers gespeel het, het ons die spel oorheers. Sodra ons besluit het om die bal wyd te laat loop, het dinge rampspoedig geëindig.”

Hy het die hoop uitgespreek dat die afrigter van die SA A-span in die toekoms meer tyd saam met die spelers sal kry.

“Dit is ʼn rukkie sedert ons laas hierdie tipe wedstryde gespeel het en ons weet nou beslis van beter. Ek sou daarvan gehou het as daar vooraf ʼn oefenkamp met die spelers was, net sodat ons alles beter in plek kon kry.”

  • Puntemakers:

Bristol Bears: Drieë: Gabriel Ibitoye en Yann Thomas. Doelskoppe: Callum Sheedy (2). Strafskoppe: Sheedy (4).

SA A: Drieë: Ntuthuko Mchunu en Sikhumbuzo Notshe. Doelskop: Johan Goosen. Strafskoppe: Sacha Feinberg-Mngomezulu (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Kobus ·

Verskonings verskonings. Hulle sal seker nou sê dat hulle baie geleer het, dat dit net beter sal gaan ens ens. Gaaaaapp!

Witbaard ·

SA se rugby styl is oor die algemeen so voorspelbaar en verbeeldingloos, dat dit nie snaaks is om te verloor nie.

Leon ·

Gelukkig was rassie nie daar met sy video kamera nie. So daar is dus geen verskonings nie. Gelukkig gaan skeidsregter nie die skuld kry

Sobymykoolkop ·

Moenie so haastig wees nie Rassie is besig met sy ontleding

George ·

Dis nie verbasend nie mense, laat die ouens leer uit so toer, dit is immers SA A, dis daar om te leer en te oefen en so te groei voor hul opgeroep word Bokke toe.

Riaan ·

Die afrigter Mzwandile Stick (Julle kan maar die naam onthou want ek gee julle vandag ‘n brief dat hy gaan die volgende Springbok hoof afrigter word) is tans die agterlyn afrigter van die bokke, en volgens my weet hy minder as niks van rugby af nie.

Pieter9 ·

Die All Black A span het nooit so ‘n probleem nie… Hulle kom bymekaar en speel Rugby! Ons spanne het altyd’ n verskoning – swak afrigting is grootliks die rede vir ‘n verloor spelpatroon. En dan kon nog nie een van ons spanne ooit naby bv enige All Blacks span se fiksheid kom nie.

MAGRIETHA ·

Hierdie ouens het sa n hardloop rugby les geleer as hul begin hardloop weet sa span nie waarheennie ,gin wonder di bokspan se agterlyn weet nie hoe nie , hul moet kyk na afrigters en minder verskonings maak hul al nes eskom met al die verskonings

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.