Bulls moet tasse pak vir kwarteindstryd

(Foto: GB Jordaan)

ʼn Omgesukkelde Bulls-span het Saterdagmiddag maklik vir Lyon met 59 – 19 oorrompel om sy plek in die kwarteindstryd van die Kampioenebeker-toernooi te verseker.

Maar die Northampton Saints het pas vir Munster met 24 – 14 geklop en dit beteken dat die Pretorianers hul tasse vir Engeland sal moet pak om in die uitspeelwedstryd te speel.

As die Ierse klub die Saints-kragmeting gewen het, sou die Bulls die voordele van ʼn tuiskwarteindstryd geniet het.

Jake White het juis sy misnoeë met SA Rugby (Saru) se reisplanne te kenne gegee.

“Die vorige keer wat ons teen Leinster gespeel het, moes ons op agt verskillende vliegtuie geklim het en ek dink dinge kan nou min of meer dieselfde uitdraai,” het die Bulls se direkteur van rugby ná die Lyon-triomf gesê.

Die gebrek aan kommunikasie is veral ʼn frustrasie.

“Of Saru het nie gedink ons gaan wen nie, of hulle wag tot die laaste minuut om die vlugte te bespreek. Ons kan met direkte vlugte reis as daar plek beskikbaar is, maar dit is onwaarskynlik as daar gesloer word om die kaartjies vir 40 spanlede te bespreek.”

Tog laat Saterdag se oorwinning hom glimlag, veral ná die Bulls se tweedehelftetreurmare teen Leinster verlede.

Dit is ʼn tree in die regte rigting nadat die Bulls verlede seisoen net voor die kwarteindrondes uitgeskakel is, terwyl Europese besoekers steeds harde bene op Fort Loftus kou.

Volgens White het die Bulls nou met mening teruggeslaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

kragaap ·

Bulle het uitstekend gespeel en die fransmanne verniel, veral in die vaste fases.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.