Bulls weer op momentum-trein

Harold Vorster op die oorlogpad teen Leinster. (Foto: GB Jordaan)

Ná ʼn drieëfees of twee kan ʼn mens sekerlik die Bulls vergewe as hulle Mark Twain (verkeerdelik) aanhaal: Gerugte van die span se permanente agteruitgang is toe inderdaad so ʼn bietjie oordrewe.

Die Pretorianers het Zebre met 78 – 12 op Ellispark oorrompel, waarna hul jongste vertoning teen Leinster ongetwyfeld die pièce de résistance was.

Ja, dit was ʼn jong Leinster-span wat op Loftus Versfeld gespeel het, maar die Ierse rugbyreuse verloor nie sommer nie; selfs met ʼn paar opkomende spelers in sy vyftiental.

Die eindtelling van 62 – 7 was dus inderdaad ʼn triomftog vir die Bulls. Dit was die tweede keer op ʼn streep dat hulle met Leinster in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) afgereken het, terwyl dit ook die Iere se grootste nederlaag nóg is.

Leo Cullen se span het vantevore met 37 punte teen Connacht (2017/’18) en met 41 punte teen Wasps (2015/’16) verloor.

Die braavleisvuur kan dus gerus weer in die omgewing van Loftus Versfeld aangesteek word, want om dinge vinnig in perspektief te plaas: Daar was nie te lank gelede nie nog lang trane in Pretoria gehuil toe die Jakarandastad se geliefde span in ʼn Curriebekerwedstryd teen die Griffons vasgeval het; tien nederlae op ʼn streep in alle kompetisies het ook tot die algehele gevoel van verdriet bygedra.

Volgens Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugby-unie, was daar ʼn paar redes vir die span se skielike agteruitgang.

In een van die boodskappe op sy WhatsApp-groep het hy onder meer Jake White se gesondheid, ʼn rits wegwedstryde, moeilike vlugte na Europa en kaptein Marcell Coetzee se tydelike vertrek na Japan as faktore uitgesonder wat ʼn rol in die nederlae gespeel het.

“Die Curriebekerspan se voorbereidingswerk was ook onvoldoende in die aanloop tot die reeks. Dit was ons fout,” het Strauss erken.

Maar wat het dan die herlewingsklok ingelui?

Canan Moodie. (Foto: GB Jordaan)

Benewens ʼn gesonde White het Kurt-Lee Arendse en Canan Moodie ʼn besliste verskil op die veld gemaak sedert hulle van die Springbok-voorbereidingskamp teruggekeer het.

Die twee vleuels het teen Leinster geskitter en daar gaan nog baie oor hul goeie samespel geskryf word – in die kleure van die Bulls én die Springbokke.

“Terselfdertyd het die spelers ook hand in eie boesem gesteek, terwyl daar hard gewerk is om foute reg te maak.”

Die Bulls speel juis volgende naweek in die VRK-kwarteindstryd teen die Stormers op die DHL-stadion en hulle sal met ʼn bietjie momentum in die agtersak die tog na Kaapstad aanpak.

“Ons het lesse geleer en sal aanhou streef om die wêreld se voorste rugbyklub te word. Op en van die veld.”

  • VRK-kwarteindstryde:

5 Mei:

20:35: Ulster teen Connacth in Belfast

6 Mei:

15:30: Stormers teen Bulls in Kaapstad

18:00: Leinster teen Sharks in Dublin

20:35: Glasgow Warriors teen Munster in Glasgow

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Mooi Bulle, jul goeie spel laat n wrang smaak in die anti Bull ondersteuners se monde, hul flou verskonings raak afgesaag, bewys hul verkeerd asb.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.