Bulls wil nog ʼn slag teen Leinster slaan

Die Bulls het verlede week ’n spul drieë teen Zebre gedruk. (Foto: GB Jordaan)

Die Bulls se doelwit vir die naweek se wedstryd teen Leinster op Loftus Versfeld is eenvoudig: Wen en wen góéd.

Indien alles volgens plan verloop, kan die Pretorianers, wat tans sewende op die amptelike Verenigde Rugbykampioenskap-punteleer is, vir hulself ʼn meer gunstige uitspeelwedstryd verseker.

Maar selfs al konsentreer die Ierse rugbyreuse nou hoofsaaklik op hul komende Kampioenebeker-halfeindstryd teen Toulouse in Dublin, is hulle steeds gedugte teenstanders.

ʼn Jong Leinster-span het immers verlede naweek teen die Lions op Ellispark gewys dat hy nie sommer sy voet van die versnelpedaal haal nie. Hulle het ʼn agterstand van 15 punte binne ʼn japtrap uitgewis om die kragmeting met 39–36 te wen.

Gʼn wonder hulle is die enigste onoorwonne span in die reeks as hul opkomende spelers met soveel waagmoed en veggees speel nie.

Juis om dié rede is die Bulls nie veel gepla oor wie speel en wie nie speel nie. Hulle meet teen Leinster kragte en basta met die res.

“Ons oefen steeds baie hard; ons gaan immers teen die beste klub in die kompetisie speel. Hulle is ʼn uitstekende span en dit maak nie eintlik saak wie in hul opdrafspan is nie; ons sal ons beste gee om die verlangde uitslag te bewerkstellig,” het die Bulls se Ruan Vermaak gesê.

Die Pretorianers het darem ʼn sielkundige wapen in hul oorlogsmondering waarmee nie veel ander spanne kan spog nie: Hulle het al vir Leinster weg van die huis geklop.

Die Bulls het ʼn slag geslaan toe hulle verlede jaar die VRK-halfeindstryd in Dublin met 27–26 gewen het.

Volgens Vermaak is Leinster egter ʼn baie professionele span en hulle sal nie sommer toelaat dat emosie die oorhand in die wedstryd kry nie.

“Ek sal egter verbaas wees as hulle nie bitter graag hierdie wedstryd op Loftus sal wil wen nie,” het die groot Bulls-speler bygevoeg.

Die wedstryd begin Saterdag om 16:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

  • VRK-punteleer (voorste tien spanne):
  1. Leinster: 79 punte
  2. Ulster: 64 punte
  3. Stormers: 63 punte
  4. Glasgow Warriors: 58 punte
  5. Munster: 53 punte
  6. Connacht: 49 punte
  7. Bulls: 48 punte
  8. Sharks: 46 punte
  9. Benetton: 41 punte
  10. Lions: 40 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.