Canan se Wêreldbeker-droom kry vlerke

Canan Moodie en Franco Mostert vier een van die Springbokke se drieë. Moodie is as die speler van die wedstryd teen Wallis in Cardiff aangewys. (Foto: Geoff Caddick/AFP)

Canan Moodie het Suid-Afrika weliswaar in nog net in ʼn handjievol toetse verteenwoordig, maar hy beskik ongetwyfeld oor die X-faktor: ʼn Speler wat met sy pypkanvaardighede die All Blacks-verdediging op Twickenham na lug laat gryp het.

Toegegee, daardie drie in die Wêreldbeker-opwarmingswedstryd was nie toegelaat nie, maar dié oudleerder van Hoër Landbouskool Boland het gewys dat hy lus is vir internasionale rugby – hetsy op vleuel of op buitesenter.

Nou is hy in Toulon waar hy hard saam met die Springbokke werk om hul Wêreldbeker-titel suksesvol op Frankryk se rugbyslagvelde te verdedig.

“Dit is ʼn droom wat waar geword het. In 2019 was ek nog op skool toe die ouens die Webb Ellis-trofee omhoog gehou het. Nou kry ek ʼn kans om die trui met die 2019-wennersembleem daarop te dra. Dit is inderdaad baie spesiaal en ek is bevoorreg om hier te wees,” het die 20-jarige agterspeler gesê.

Die Springbokke speel Sondag in hul eerste wedstryd van die 2023-skouspel teen Skotland in Marseille en volgens Moodie is die Suid-Afrikaners oorgehaal vir sukses.

“Elke wedstryd is vir ons belangrik, veral wanneer jy in só ʼn taai groep is. Ons wil ons veldtog met ʼn sterk vertoning teen Skotland begin. Ons oefen al die hele jaar vir dié oomblik en ek glo ons is gereed vir Sondag.”

Moodie word grotendeels op vleuel deur die Springbok-bestuur en die Bulls ingespan, maar hy het op senter ʼn barshou teen die All Blacks gespeel.

Sy aanvoeling vir die spel en natuurlike talent beteken dat hy nog diep spore in Springbok-rugby kan trap; gʼn wonder hy word deur oorsese media uitgesonder as een van die jong gevaarmanne wie se vordering ondersteuners by die Wêreldbeker-toernooi moet volg.

Daar is sprake dat hy weer die sprong terug na vleuel teen Skotland kan maak. Indien dinge só uitwerk, sal hy teen die sterke Duhan van Merwe te staan kom. ʼn Tweestryd wat rugbyliefhebbers beslis meer regop sal laat sit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.