Daar is natuurlik druk, maar Bokke speel vir ondersteuners

Die Springbok-span wat Sondag teen Skotland in Marseille speel. (Foto: Twitter/Springbokke)

Dit was vir Siya Kolisi ʼn baie spesiale oomblik toe hy vier jaar gelede die Webb Ellis-trofee in Japan omhoog gehou het. Niks kon hom egter voorberei vir die heldeontvangs wat die span gekry het toe hulle weer terug in Suid-Afrika was nie.

“Die ondersteuners se energie het ons opnuut weer laat besef vir wie ons speel. Ja, daar is druk (die Springbokke is immers die verdedigende Wêreldkampioen-span), maar dit is ʼn voorreg om die land te verteenwoordig,” het die nasionale rugbykaptein gesê.

Suid-Afrika se Wêreldbeker-veldtog begin Sondag amptelik in Marseille wanneer hulle kragte met Skotland meet.

“Hulle het vroeër glad nie vir Frankryk teruggestaan nie en ons het baie hard vir die wedstryd voorberei. Skotland is ʼn topgehalte span wat met selfvertroue speel en hulle is altyd gevaarlik op die aanval.”

Benewens die Skotse uitdaging, speel Suid-Afrika ook teen Ierland, Tonga en Roemenië in Groep B.

“Daar is reeds baie geskryf en gesê oor die groep waarin ons onsself bevind; maar as ons die Wêreldbeker wil wen sal ons in elk geval met die beste spanne moet afreken. Skotland is ʼn goeie voorsmakie van dit wat op ons wag – dit is amper soos ʼn uitklopwedstryd.”

Cheslin Kolbe het vroeër die Skotland-kragmeting met ʼn eindstryd vergelyk.

“Ons is die verdedigende kampioenspan, maar dit is vier jaar gelede. As ons ʼn soortgelyke vertoning wil opdis, sal ons baie hard moet werk. Ons wil Suid-Afrika trots maak en vir spesiale herinneringe sorg,” het die Springbok-vleuel gesê.

Die wedstryd begin Sondag om 17:45 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

Springbokke: Damian Willemse (heelagter), Kurt-Lee Arendse (regtervleuel), Jesse Kriel (buitesenter), Damian de Allende (binnesenter), Cheslin Kolbe (linkervleuel), Manie Libbok (losskakel), Faf de Klerk (skrumskakel), Jasper Wiese (agtsteman), Pieter-Steph du Toit (flank), Siya Kolisi (kaptein en flank), Franco Mostert (slot), Eben Etzebeth (slot), Frans Malherbe (stut), Malcolm Marx (haker) en Steven Kitshoff (stut). Plaasvervangers: Bongi Mbonambi, Ox Nche, Trevor Nyakane, RG Snyman, Marco van Staden, Duane Vermeulen, Grant Williams en Willie le Roux.

Skotland: Blair Kinghorn (heelagter), Darcy Graham (regtervleuel), Huw Jones (buitesenter), Sione Tuipulotu (binnesenter), Duhan van der Merwe (linkervleuel), Finn Russell (losskakel), Ben White (skrumskakel), Jack Dempsey (agtsteman), Rory Darge (flank), Jamie Ritchie (kaptein en flank), Grant Gilchrist (slot), Richie Gray (slot), Zander Fagerson (stut), George Turner (haker) en Pierre Schoeman (stut). Plaasvervangers: Dave Cherry, Jamie Bhatti, WP Nel, Scott Cummings, Matt Fagerson, Ali Price, Cameron Redpath en Ollie Smith.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Roek ·

Baie teleurgesteld oor die truie , ek is baie trots op die bokke maar lyk hul soos die Checkers 60/60 aflewerings span , waarom speel ons nie in die Groen en Goud in ons eerste wedstryd nie , ??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.