‘Dankie, SA’ – Springbokke

(Foto: Luca Sola/AFP)

Mark Alexander, president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), het Suid-Afrikaners bedank vir die oorweldigende ondersteuning en geesdrif wat hulle gewys het tydens die Springbokke se opmars tot ʼn vierde Wêreldbeker-oorwinning.

Die Springbokke se laaste drie eenpunt-oorwinnings het miljoene Suid-Afrikaners op die punt van hul stoele gehou. Die naelbytery was uiteindelik die moeite werd met die Bokke se oorwinning van 12 – 11 oor Nieu-Seeland die afgelope naweek.

Die Springbokke keer vandag terug huis en word amptelik op die OR Tambo-lughawe ontvang. Honderde Suid-Afrikaners het vroegoggend reeds na die lughawe opgeruk om aan die manne in groen-en-goud ʼn heldeontvangs te gee.

“Namens die Springbokke en die hele Suid-Afrikaanse rugbygemeenskap wil ek ons innige dankbaarheid en nederigheid te kenne gee oor die geweldige ondersteuning wat die span ontvang het,” sê Alexander.

(Foto: Nicolas Adamy/Hans Lucas/Hans Lucas /AFP)

“Die TikToks, YouTube-video’s en Facebook-plasings van ondersteuners wat op die Bok-oorwinnings gereageer het, het ʼn beduidende rol gespeel om die span te motiveer om hul alles te gee tot in die laaste minuut van die wedstryd.”

ʼn Vier dag lange trofeetoer word vandeesweek gehou om die span se waardering aan Suid-Afrikaners oor te dra en die trofee met trots ten toon te stel.

Alexander het beklemtoon dat die doel van die toer is om soveel mense as moontlik te bereik binne die beperkte tyd voordat die span huiswaarts keer.

Die toer skop Donderdag in Johannesburg, Soweto en Pretoria af en inwoners van Kaapstad en Durban sal ook die geleentheid kry om die span te verwelkom.

(Foto: Luca Sola/AFP)

(Foto: Nicolas Adamy/Hans Lucas/ Hans Lucas/AFP)

Die Bokke gaan ook Oos-Londen in die Oos-Kaap besoek. Satelliettoere na ander sentrums in onder meer die Vrystaat, Noordwes, Limpopo, Mpumalanga en Noord-Kaap word ook beplan.

“Die spelers se klubverpligtinge noodsaak hul vinnige terugkeer en herstel ná 21 weke van intense kompetisie.

“Terwyl dit altyd uitdagend was om elke dorp en stad te besoek weens tydsbeperkings, is ons vol vertroue dat ons keuses en deurlopende beplanning ons in staat sal stel om mettertyd alle groot bevolkingsentrums in elke provinsie te besoek. Met die beker vir nog vier jaar in ons besit, is daar genoeg geleentheid daarvoor.”

  • Hou Maroela Media dop vir die Bokke se verwelkoming terug in Suid-Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.