‘Easy Company’ is All Blacks se teenvoeter vir Bok-bankkrag

Die Springbokke en die All Blacks speel Saterdag in die eindstryd van die Wêreldbeker-toernooi teen mekaar. (Foto: Twitter/All Blacks)

Die Springbokke spog dalk met ʼn gedugte Bomb Squad wat taai wedstryde in die tweede helfte vir Suid-Afrika kan beklink, maar volgens Dalton Papali’i is die All Blacks se “Easy Company” ook ʼn krag om mee rekening te hou.

Papali’i vertel dat hy deel is van ʼn groep All Black-spelers wat Steven Spielberg en Tom Hanks se Band of Brothers-televisiereeks in die spankamer kyk.

Die reeks volg die Tweede Wêreldoorlog-aksie van Easy Company – ʼn groep Amerikaanse valskermsoldate verbonde aan die befaamde 101st Airborne Division.

“Ek het grappenderwys gesê dat as die Springbokke die Bomb Squad het, kan ons net sowel ʼn Easy Company hê! Ons wil sterk in die loopgrawe staan en die groot taak wat op ons wag suksesvol deurvoer,” het die 26-jarige losvoorspeler gesê.

Jason Ryan, die Kiwi’s se skrumafrigter, erken dat die Bokke uitstekende spel in die vaste fasette kan opdis.

“Hulle is ʼn span met groot spelers wat presies weet wat hulle op ʼn rugbyveld doen. Terselfdertyd beskik hulle oor net genoeg variasie om hul teenstanders op en wakker te hou,” het Ryan gesê.

Hy het die komende eindstryd op die Stade de France met ʼn swaargewigtitelgeveg vergelyk en hy het ook die gevaar van die Bomb Squad onderstreep.

“Dit sal goed wees as ’n mens die bom net so ’n bietjie van sy plofkrag kan beroof, nie waar nie? Ons sal doodeenvoudig ons vertroue in ons wedstrydplan moet plaas en glo dat ons tot die eindfluitjie kan baklei.”

Die All Blacks het op ’n drafstap vir die eindstryd gekwalifiseer nadat hulle Argentinië met 44 – 6 oorrompel het, terwyl die Bokke ’n moeiliker pad teen Engeland gevolg het.

Tog meen Ryan dat die uitslae in aanloop tot die finale skouspel irrelevant is; wat op die dag gebeur, dra die grootste gewig.

“Die Springbokke het hulself glad nie in die steek gelaat nie. Hulle speel in die eindstryd en dit maak glad nie saak of ’n span die halfeindstryd en kwarteindstryd met een punt of 30 punte gewen het nie. Dan sal hulle ook met selfvertroue speel want hulle weet presies hoe om ’n Wêreldbeker te wen. ”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

vuurvliegie ·

Lyk my al die boerbokke is bang om wie te sê. Viva All Blacks

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.