Eddie trek Victor as konsultant nader

Victor Matfield. (Foto: Ben Queenborough/DPPI via AFP)

Hy is Suid-Afrika se mees ervare Springbok met 127 toetse agter sy naam. Nou berig Rapport dat Victor Matfield deur Eddie Jones as konsultant nadergetrek is.

Maroela Media het vroeër berig dat Jones van 1 Januarie as Japan se hoofafrigter aangestel is en hy het beslis ʼn slag met Matfield geslaan: Die oudslot word wyd en syd as een van die land se blinkste rugbybreine gereken.

Matfield, nou 46 jaar oud, was in sy speeldae saam met Bakkies Botha ʼn gedugte slotkombinasie vir die Springbokke en Blou Bulle, en hy was veral bekend vir sy uitstekende werk as lynstaanspesialis.

Ná sy speeldae het hy afrigterservaring saam met spanne soos die Bulle en Bath in Engeland opgedoen. Hy is ook ʼn gereelde gesig op SuperSport waar hy as ontleder optree.

“Dit is lekker om op internasionale vlak betrokke te raak en saam met Eddie te werk,” het hy aan Rapport gesê terwyl hy ook erken dat hy ʼn aanhanger van Jones is.

Die twee het immers saamgewerk toe die Springbokke in 2007 die Webb Ellis-trofee in Frankryk omhoog gehou het.

Volgens Matfield sal hy af en toe na Japan vlieg om die spelers by te staan, terwyl hy ook gereelde ontledings van ander spanne sal deurstuur.

Jones het al vantevore gesê dat hy van Japan ʼn rugbykrag op die internasionale verhoog wil maak.

Een van die hoogtepunte van die Aussie se aanvanklike afrigtersbeurt saam met die Dapper Bloeisels was die oorwinning van 34 – 32 oor die Springbokke in ʼn Wêreldbeker-wedstryd in Brighton.

Matfield het op daardie dag saam met Lood de Jager in die Bok-lynstane gerank.

Die Suid-Afrikaanse rugbylegende het egter die hoop uitgespreek om eendag deel van die Springbok-opset te word.

Mees ervare Springbokke:

  1. Victor Matfield: 127 toetse
  2. Bryan Habana: 124 toetse
  3. Eben Etzebeth: 119 toetse
  4. Beast Mtawarira: 117 toetse
  5. John Smit: 111 toetse
  6. Jean de Villiers: 109 toetse
  7. Percy Montgomery: 102 toetse
  8. Willie le Roux: 93 toetse
  9. Joost van der Westhuizen: 89 toetse
  10. Ruan Pienaar: 88 toetse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

John ·

Ja soos hulle se ” Scraping the barrel now “……hoe desperaat kan n man word.

George ·

@Electricmango, sal nie die mees gecapte speler en wc wenner as useless beskou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.