Hier is Kwagga se grootste ondersteuner

Kwagga en Ilke Smith op pad na ’n volgende avontuur. Foto: Verskaf.

Die Lions is tans oorsee en het pas (teen baie se verwagtinge in) die Chiefs 23 – 17 in Nieu-Seeland geklop. Een van die span se steunpilare is hul woelwaterflank, Kwagga Smith.

Smith het sy Springbok-debuut teen Wallis in Washington gemaak en sedertdien is daar talle ondersteuners wat hoop hy haal Rassie Erasmus se finale groep vir die Wêreldbeker later vanjaar in Japan.

En die grootste kampvegter vir Smith se Bok-insluiting is beslis sy vrou, Ilke.

Die twee is in Desember 2017 getroud, maar het vir sewe jaar uitgegaan vóór Kwagga die groot vraag gevra het.

“Ek was 16 jaar oud en Kwagga 18 jaar oud (albei in HTS Middelburg) toe ons begin uitgaan het,” het Ilke Dinsdagoggend vir Maroela Media gesê.

Smith het in dié tydperk Curriebeker-, sewes-, Superrugby én internasionale rugby gespeel. Hy was selfs na die Olimpiese Spele, waar die Blitsbokke in 2016 die bronsmedalje in Rio de Janeiro gewen het.

Smith en sy Lions-spanmaats is juis nou in Nieu-Seeland waar hulle Vrydag teen die toernooi se voorlopers, die Crusaders, in Christchurch speel.

Die twee is in Desember 2017 getroud. Foto: Verskaf.

Darem is dié toer – volgens Ilke – net vir drie weke en nie vir vier soos normaalweg nie.

“Kwagga is maar min by die huis, veral toe hy sewes gespeel het. Ek onthou destyds toe hy vir ses maande van die jaar in Stellenbosch gebly het, en vir die ander ses maande in Johannesburg. Dit is hoegenaamd nie lekker wanneer hy weg van die huis is nie, maar dan waardeer mens die tye saam net soveel meer.”

Smith is een van die meer veelsydige spelers in die Lions-opset: danksy sy sewesvaardighede is hy uitstekend op die aanval, terwyl hy ook nie skroom om die donkiewerk te verrig nie.

Veelsydigheid en sy 110%-kanniedood-houding kan beserings veroorsaak en hy was vanjaar vir ’n geruime tyd op die krukkelys met ’n liesbesering.

Is sy soms op haar senuwees wanneer haar man op die veld draf? “Ek is glad nie bekommerd nie. Ek dink partykeer Kwagga kan nie seerkry nie, maar dan herinner my ma my dat hy net ’n mens is; nie ’n masjien nie. Ek is mal oor rugby en meer opgewonde as hy opdraf, as bekommerd.”

Ilke was self op skool ’n kranige sportvrou en het goeie hokkie vir HTS Middelburg gespeel en sy draf nog daagliks.

Maar deesdae konsentreer sy meer op haar man se sportloopbaan.

“Ek is altyd eerlik met Kwagga oor sy vertonings. Gelukkig is hy mal oor ’n uitdaging, dus is dit maklik om hom te motiveer – hy is nie werklik iemand vir inspirerende boodskappies of aanhalings nie. Maar my droom is beslis dat hy in ’n Wêreldbeker-toernooi sal speel.”

In 2019 óf in 2023.

  • Die Lions speel Vrydag om 09:35 teen die Crusaders. Nog ’n oudleerling van HTS Middelburg, Ivan van Rooyen, is die afrigter in Swys de Bruin se afwesigheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

ChrisE ·

Help my reg, het die Leeus nie teen die Chiefs gespeel nie. Die woefster het sy bekvol oor die baas se bestuursvernuf. Hy is die “bek seat driver”

Docpietza ·

ChrisE lees weer. Hul sê die Chiefs ja.
Well done Leeus.

Nico ·

Jwagga hoort in die Bokspan maar Rassie se gatkruip WO en ANC palloekas gaan hom ongelukkig uit span hou.

ChrisE ·

Dankie vir die regstelling. Neem kennis. Was nogal nie te veel verbaas oor die Leeus se wen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.