‘Hou op kla,’ twiet oud-Wallaby

Kwagga Smith was een van die Springbokke se plaasvervangers op Twickenham. (Foto: Ian Kington/AFP)

Drew Mitchell het op sosiale media gesê hy verstaan nie die bohaai oor die Springbokke se plaasvervangersbank teen die All Blacks op Twickenham nie.

Willie le Roux het in aanloop tot die Wêreldbeker-opwarmingswedstryd ʼn stamp in die ribbes gekry en sy plek op die plaasvervangersbank is deur Kwagga Smith ingeneem.

Die Springbokke het dus sewe voorspelers en een agterspeler as die span se reserwekrag gehad en op ʼn aand waar die voorspelers die septer geswaai het in hul uiteindelike oorwinning van 35 – 7, het dinge toe perfek vir die Suid-Afrikaners uitgewerk.

“Mense kla bloot net omdat dit gewerk het. As dinge skeefgeloop het, sou geen haan daaroor gekraai het nie,” het die oudvleuel getwiet.

Volgens Mitchell, wat die Wallabies in 71 toetse verteenwoordig het, het die Springbokke bloot hul sterk punte op die internasionale verhoog uitgestal. Iets wat enige rugbyspan waarskynlik sal wil doen.

“Probeer eerder ʼn manier vind om dit te neutraliseer as om daaroor te kla,” het hy afgesluit.

Mitchell se reaksie volg op Matt Williams se ontevredenheid met die Bokke se bankkrag. Volgens die voormalige Skotland-afrigter het die Suid-Afrikaners die plaasvervangersbank as’t ware misbruik.

“Sewe voorspelers op die plaasvervangersbank; is jy ernstig? Wêreldrugby moet sy stem hieroor laat hoor,” het Williams in ʼn Monday Night Rugby-podsending gesê.

“Die Springbokke het eensklaps hul hele pak voorspelers teen Nieu-Seeland vervang. Die enigste teenvoeter daarvoor is om te sê dat drie erkende agterspelers ʼn vereiste op die plaasvervangersbank is.”

Franse kry Danty-terugslag

Jonathan Danty, die sterk Franse senter, kan die Hane se openingswedstryd teen die All Blacks weens ʼn besering misloop.

Die 30-jarige agterspeler, wat die skaal op 110 kg laat kreun, het sy dyspier in Frankryk se opwarmingswedstryd teen Australië beseer.

Terwyl L’Equipe berig dat Danty definitief die aksie van langs die kantlyn sal dophou, meen RugbyRama dat hy dalk nog beskikbaar kan wees.

Die Franse mediese span sal sy vordering dophou en ʼn finale besluit oor sy wedstrydfiksheid sal nader aan die kragmeting geneem word.

Frankryk is reeds sonder die dienste van die opwindende Romain Ntamack nadat die losskakel ʼn kniebesering opgedoen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Elma ·

Beide argumente dra gewig. Ons voorspelers is sterk en ons pak word gevrees en maak gewoonlik die verskil tussen wen en verloor. MAAR ek dink nogal dis n risiko om net 1 agterspeler op die bank te hê. Dis een ding om jou sterk bomsquad op die bank te hê, dis n ander storie as een van jou agterspelers n besering tydens die wedstryd opdoen. Bietjie van n risiko.

Jack Russ1 ·

Stem saam, dit is ‘n groot risiko. Dit is egter nie die plan gewees om net 1 agterspeler op die bank te he nie, dis agv hoe hulle in die week geoefen het en hulle wou nie ‘n kans vat met hulle nie. Kwagga is toe in Willie se plek ingesit, nie volwaardige agterspeler nie, maar weet ten minste wat om daar te doen

So plan was 6-2, maar moes plan maak en beste vir die WB wat voorlê was om nog ‘n voorspeler in te trek. Nienaber het wel erken dis ‘n risiko en nie iets wat hulle sommer gaan doen nie

SjN ·

Elma, onthou dit kan beide kante toe sny, hoe groter die risiko, hoe groter die opbrengs!!

Elma ·

Ek stem heeltemal saam jou, ek glo Rassie en Jacques sal nie sommer ondeurdagte besluite neem nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.