Junior Bokke oorgehaal vir Wêreldtoernooi

Lumumba Currie (Foto: Springboks Rugby)

Die Junior Bokke het Dinsdag in Nuweland aangekom ter voorbereiding van hul eerste wedstryd Saterdag teen Georgië.

Die span het die afgelope twee maande in Stellenbosch voorbereiding vir die o.20-Wêreldtoernooi gedoen en is al te bewus dat Georgië nie onderskat moet word nie.

“Ons het na hul video’s gekyk en hulle is hier omdat hulle verdien om hier te wees, ongetwyfeld,”  sê Lumumba Currie, hulpafrigter van die Junior Bokke. “Hulle trek voordeel daaruit om in Europa en teen verskeie speelstyle te speel, en hulle is nie voorspelbaar nie. Ons weet dat ons op ons beste moet wees as ons die toernooi goed wil begin.

“Ons wil ’n sterk standaard in daardie wedstryd stel en seker maak dat ons in beheer van ons eie lot in die toernooi bly.”

Currie meen die gure weerstoestande wat vir die volgende paar dae voorspel word, sal ʼn impak hê op voorbereidings sowel as wedstryde.

“Dit sal al die spanne raak, maar ons was gelukkig om die afgelope tien dae in hierdie toestande te oefen en ons is gewoond daaraan,” het hy gesê.

Die Junior Bokke het in 2012 laas die wêreldkroon gedra en Currie meen die druk om die geskiedenis te herhaal is iets waarvan die span deeglik bewus is, maar dat hulle dit as motivering eerder as ʼn las sien.

“Dit sal wonderlik wees (om die sukses van 2012 te herhaal),” het hy gesê. “Ons het goed voorberei en die span sal eerskomende Saterdag gereed wees.”

Die beginspan vir Saterdag se wedstryd word Donderdag bekend gemaak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Frank ·

Glad nie ‘n slim plannetjie om hierdie tyd van die jaar in die Kaap te wil rugby speel nie, SARU!!! Hallo, dis reëntyd!

George ·

Jy kan nog jou kommentaar delete, jy het duidelik geen kennis van die span nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.