Kan Bulls ook Europa op horings neem?

Arno Botha het ook al ’n hele paar wedstryde vir Munster gespeel. Foto: GB Jordaan.

Reg, die Bulls is ongetwyfeld die beste rugbyspan in Suid-Afrika. ’n Oorvloed wedstryde teen plaaslike spanne en ’n vertoonkas wat uit sy nate bars, is ’n klinkklare bewys hiervan.

Maar in hul enigste wedstryd teen ’n Europese span weg van die huis het hulle lelik in die hek geduik.

Die Pretorianers het immers hul swakste wedstryd van die afgelope seisoen of twee gespeel toe Benetton hulle met 35 – 8 in die eindstryd van die Reënboogbeker-reeks in Treviso ore aangesit het.

Maar, sê Felipe Contepomi (Leinster se agterlynafrigter), die Bulls kan ook ’n gevaar in Europa wees. Iets waarvoor ’n mens vir Jake White kan dankie sê.

Die uitgeslape Bulls-afrigter het sy span gelaai met spelers wat weet hoe om rugby in Europese toestande te speel. Dink aan Johan Goosen en Arno Botha, terwyl Marcell Coetzee verlede jaar met drie toekennings by Ulster se toekenningsaand weggestap het.

Jake White. Foto: GB Jordaan.

White het ook onlangs vir Bismarck du Plessis en Jacques du Plessis na Pretoria gelok; spelers wat in meer as 100 wedstryde vir Montpellier in aksie was.

Volgens Contepomi behoort die Pretorianers dus te weet hoe om ’n rugbywedstryd in Europa te benader.

“Ek dink hulle sal taai teenstanders weg van Loftus Versfeld wees. Danksy die groep spelers met Europese ervaring sal hulle meer op hul gemak in hierdie toestande wees,” het die voormalige Argentynse speler gesê.

Hy sien ook daarna uit om die Bulls se wedstryd-benadering eerstehands te ervaar.

“Dit gaan ongetwyfeld ’n goeie uitdaging wees; nie net vir die spelers nie, maar ook vir ons as afrigters. In hierdie kompetisie speel jy teen spanne uit verskillende lande en die Suid-Afrikaanse vyftientalle sal ongetwyfeld vir iets nuuts sorg.”

Leinster se spelers is dalk nie so wedstrydfiks nie – hulle het in die afgelope ruk net een vriendskaplike wedstryd teen Harlequins gespeel.

“Wanneer jy sien dat jy teen ’n span speel wat op dreef is ná die Curriebeker-kompetisie, sou jy vooraf eintlik nog ’n paar wedstryde wou gespeel het, maar ons het steeds na die beste van ons vermoë voorberei.”

Die wedstryd begin Saterdag om 18:15 en sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Harley Davidson ·

Ek dink hulle kan mits hulle ‘n wêreld klas afrigter soos Jake White het en nie voorgeskryf word deur ntuli huis oor die kwota spelers van kleur nie maar die beste 15 man wat beskikbaar is kan speel.

piet ·

Is daar beter wit spelers? Wees braaf en noem hulle. Noem ook die swart spelers wat jy reken nie in die span moet wees nie. Ek raak nou keelvol van hierdie kwota twak gemoanery. In meeste gevalle is die swart spelers eintlik van die beste spelers in die span en dis al oor en oor bewys.

Harley Davidson ·

Piet dit het niks met spelers van kleur te doen nie maar dit is net soos met apartheid dit is verkeerd om enige sisteem te he wat mense bevoordeel of benaadeel oor die kleur van hulle vel

piet ·

Ek stem saam dat daar op laer vlakke (skoolvlak) dalk ‘n verswakking kan wees van spanne maar nie op provinsiale vlak of toetsvlak nie. Ons het genoeg swart spelers om hierdie topvlak spanne OP MERIETE te haal en hulle is sonder twyfel op meriete daar en soos gese in baie gevalle ook van die beste spelers in die span. So as jy wil moan oor kwotas wat die meriete op laer vlakke mag beinvloed, goed en wel (dis ook nie noodwendig die waarheid nie sien dat hordes kwaliteit swart spelers deurkom en nou beurse kry by top rugbyskole). Persoonlik reken ek dat daar nou soveel top swart spelers in die skole stelsel is dat ons nooit hoef bekommerd te wees oor swart meriete op die hoer vlakke nie. Ek het reeds tevore gese dat meer as 80% van provinsiale spanne en die toetsspan bestaan uit spelers wat juis uit hierdie top rugbyskole kom. Die kwotastelsel was nodig want die hoofsaaklik wit establishment in rugby het nie swart spelers ontwikkel, gekies en deurgebring na topvlak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.