Kiwi’s klink ook Blitsbokke se doppie

Impi Visser soek deurkomkans. (Foto: Hansie Linde)

Selfs nie eens ʼn glimlaggende Damian Willemse met die Webb Ellis-trofee onder die arm kon die Blitsbokke tot ʼn sege in Kaapstad aanspoor nie.

Die Springbok-agterspeler het onder groot toejuiging met die Bokke se Wêreldbeker-sukses in Groenpunt kom spog.

Maar daar was weinig teken van die vyftienmanspelers se veggees in die Blitsbokke se laaste vertoning op hul tuisveld.

Die Suid-Afrikaanse sewesrugbyspan het ʼn teleurstellende Kaapstad-veldtog met nóg ʼn nederlaag afgesluit nadat Nieu-Seeland hom met 31 – 7 oorrompel het.

Die Kiwi’s het vier drieë gedruk en hulle het munt uit die Blitsbokke se sukkelspel geslaan.

Net soos in die vorige wedstryd teen Australië het die tuisspan swak verdedig, terwyl hulle oënskynlik geen kreatiwiteit op die aanval gehad het nie en die bal is soms net weggesmyt.

Selvyn Davids en kie sluit dus die toernooi in die sesde plek af en hulle sal nog ʼn jaar moet wag om dalk weer met die seweslouere in Kaapstad weg te stap.

ʼn Mens sukkel om te glo dat dié span verlede week die silwerware in Dubai omhoog gehou het.

Die Blitsbokke het met 31 – 7 teen Nieu-Seeland verloor. (Foto: Hansie Linde)

  • Puntemakers:

Nieu-Seeland: Drieë: Cody Vai (2), Ngarohi McGarvey-Black, Sione Molia en Akuila Rokolisoa. Doelskoppe: Tepaea Cook-Savage (2) en Rokolisoa.

Suid-Afrika: Drie: Ronald Brown. Doelskop: Justin Geduld.

  • Suid-Afrikaanse sewesspanne se uitslae in Kaapstad:

Blitsbokke:

19 – 5 teen Groot-Brittanje

26 – 14 teen die VSA

12 – 14 teen Ierland

0 – 28 teen Australië

7 – 31 teen Nieu-Seeland

Vrouespan:

0 – 40 teen Kanada

0 – 34 teen die VSA

7 – 21 teen Spanje

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

tweeling ·

Chokers op julle tuis veld. Los maar die vlieg duikspronge en sirkus bewegings en konsentreer op die rugby. Julle is ‘n verleentheid!

Anel ·

Gaan dieselfde pad volg as die sokker, wat verwag hulle. Gedink kan met ander man se kalwers ploeg. Van hero tot zero, net so!!!

mattk ·

Neil Powell se suksesse gaan bitter moeilik wees om na te doen. Nie alle spelers is goeie afrigters nie.

Hendrik ·

Alle sporte ly agv kwotas in SA spot. Suid-Afrika moet verbied word om aan enige internationale sport deel te neem voordat sportkwotas nie afgeskaf is nie,

piet ·

Die kommentare raak darem oulik net sodra ons verloor dan is dit weer kwotas se skuld. So terloops – ons vroue spannetjie het ook deelgeneem. Omtrent 80% van die span wat gespeel het, was hierdie keer wit en hulle het AL hullle wedstryde verloor. Dieselfde storie met die netbal wat tans teen Engeland speel. Ek dink daar is net 1 of 2 spelers van kleur in die span en hulle verloor alles. So wat nou?

Kuver ·

Ag piet gaan speel op die hoof weg, hierdie land se sport organisasies moet by wereld sport verkla en geban word oor hulke kwotas en hier praat ek nie net van die volwasse spanne nie, dis n sjande wat op provinsiale en skool vlakke aan die gebeur is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.