Kiwi’s moet fokus behou teen Uruguay

Nieu-Seeland se haker, Dan Coles. (Foto: Sebastien Bozon/AFP)

Nieu-Seeland se hoofafrigter, Ian Foster, verwag van sy span om behoorlik op hul tone te wees terwyl die All Blacks probeer om ʼn plek in die kwarteindstryd te verseker ná hul laaste groepwedstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi Donderdag teen Uruguay.

Nadat hulle 25 drieë en 167 punte in hul laaste twee wedstryde teen Namibië en Italië bymekaar gemaak het, word daar verwag dat Nieu-Seeland die Suid-Amerikaners op ʼn drafstap sal klop.

Foster weet egter al te goed dit is sy taak om te verseker sy span verloor nie fokus nie – en om nie Uruguay te onderskat nie.

“Jy kan nie ʼn span vals motiveer nie, want dit wys in hulle prestasie. So jy moet by die werklikheid hou,” sê Foster.

“Ons het self so baie om te bereik. Dit is ʼn feit. Ons is nog nie in ʼn kwarteindstryd nie en ons moet verseker dat ons daar uitkom.”

Uruguay het tot dusver ʼn indrukwekkende vertoning by die toernooi gelewer. Hulle het prysenswaardig teen Frankryk gevaar hoewel die span eindelik 27-10 verloor het. Dit was net drie punte minder as wat Nieu-Seeland in hulle nederlaag van 27-13 teen die gasheerland opgestapel het.

“Ons speel teen ʼn span wat basies dieselfde telling teen Frankryk as ons gehad het,” sê Foster.

“Dit verdien baie respek en as jy na daai wedstryd kyk – daai ouens – ek is mal oor hulle houding. Hulle is ʼn werklik geesdriftige rugbyspan en as ons nie op alle suiers vuur nie, gaan ons sukkel.”

Uruguay het nietemin teen Italië verloor, ʼn span wat Nieu-Seeland met 96-17 vermorsel het, en die Suid-Amerikaners gaan waarskynlik nie veel meer as net vlugtige teenstand bied nie.

Foster gee toe dit is moeiliker om die span teen Uruguay te motiveer, as wat dit byvoorbeeld sou wees om hulle aan die brand te kry voor ʼn wedstryd teen een van die wêreld se voorste spanne – soos Frankryk.

“Ons vaar op ons beste wanneer ons gespanne is,” sê Foster.

Rugby in Uruguay floreer

Die wedstryd is die eerste kragmeting tussen die twee lande en gebeur in ʼn bloeitydperk vir rugby in Uruguay. Die span is lof toegeswaai vir hul ondernemingsgees in wedstryde teen Frankryk en Italië.

Uruguay was in die wedstryd teen Italië halftyd met 17-7 voor, maar ʼn geelkaart in die tweede helfte het hulle duur te staan gekom en hulle het binne net 15 minute vier drieë afgestaan.

In die tweede helfte van die wedstryd teen Frankryk was hulle ná tien minute net 13-12 agter en hoewel die gashere daarna vet gegee het, het Uruguay die Franse nietemin onteem van ʼn aanvallende bonuspunt.

“Uruguay verteenwoordig noemenswaardige uitdagings op talle gebiede van die spel waarop ons in die toekoms dalk sal moet verbeter,” sê Foster.

“Ons weet hulle is kwaai aanvallend by die afbreekpunte.”

Uruguay se flank, Manuel Ardao, is ʼn reusebedreiging by die afbreekpunte en hou deesdae die rekord as die speler wat die meeste kere in ʼn Wêreldbeker-wedstryd besit kon omkeer.

Foster het verskeie veranderinge aan die span aangebring en die veterane Sam Whitelock en kaptein Sam Cane is onder die nege nuwe gesigte.

Uruguay se afrigter, Esteban Meneses, het ses veranderings aan sy span gemaak, maar gehou by dieselfde skakelpaar wat hy die afgelope toernooi gebruik: losskakel Felipe Etcheverry en skrumskakel Santiago Arata.

Nieu-Seeland kort ʼn bonuspunt-oorwinning vir ʼn plek in die kwarteindstryd. Uruguay kan ook na die uitkloprondes deurdring, maar gaan die All Blacks in daardie geval met meer as 80 punte moet klop.

Uruguay is realisties oor hul kanse.

“Jy berei altyd voor om ʼn wedstryd te wen, maar ʼn ding op papier en die werklikheid verskil nogal van mekaar,” sê hulpafrigter Pablo Bouza.

“Om op gelyke voet vir die grootste deel van die wedstryd te speel, is deel van die doelwit. Ons is oortuig dat ons die dryf en intensiteit sal hê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.