Knie hou Mbonambi dalk maande lank op kantlyn

Bongi Mbonambi (Foto: Emmanuel Dunand/AFP)

Bongi Mbonambi moet dalk vir ses maande op die kantlyn deurbring weens ʼn kniebesering, sê John Plumtree, hoofafrigter van die Sharks.

Die einste besering het die 32-jarige haker gedwing om die rugbyveld vroeg te verlaat tydens vanjaar se Wêreldbeker-eindstryd teen Nieu-Seeland.

“Bongi kan dalk vir ses maande buite aksie wees,” sê Plumtree.

Die Sharks het onlangs van ʼn Verenigde Rugbykampioenskap-toer na Europa teruggekeer waar die span al vier wedstryde verloor het.

Verdere slegte nuus vir die Sharks is dat nog ʼn tweemalige Wêreldbeker-wenner, Vincent Koch, vir tot drie maande buite aksie kan wees – ook weens ʼn kniebesering.

Mbonambi was onlangs die onderwerp van bespreking vir rugbyondersteuners wêreldwyd nadat die Engelse voorspeler Tom Curry hom in die Wêreldbeker-halfeindstryd daarvan beskuldig het dat hy ʼn rassistiese opmerking teenoor hom gemaak het. Wêreldrugby het egter onvoldoende bewyse gevind om die bewering te staaf en die saak gesluit.

Die Springbokke speel eers in Julie volgende jaar weer teen Ierland in ʼn reeks van twee toetse. Die Iere het die Springbokke in ʼn Wêreldbeker-groepwedstryd geklop, maar in die kwarteindronde teen Nieu-Seeland verloor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

vuurvliegie ·

Bongi moet vinnig herstel. Ek hoop nie dis ‘n blinde sambok wat hom nou geslaan het na sy wereld beker uitlatings nie. Payback time.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.